VSO verken die Vrystaat

0
835

Die Vrystaatse Simfonieorkes (VSO) sprei aanstaande maand sy vlerke na ander plekke in die Vrystaat.
Op Donderdag 12 Maart lewer die orkes ‘n uitvoering in Bloemfontein en op Vrydag 13 Maart word die program in die Ernest Oppenheimer-teater in Welkom herhaal. Hierdie konserte word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die National Lottery Distribution Trust Fund (NLDTF).

Die violiste Farida Bacharova en Samson Diamond speel twee werke saam met die orkes: Mozart se Concertone vir Twee Viole en Orkes en Sarasate se opwindende Navarra vir Twee Viole en Orkes, op. 33.

In 1992 was Bacharova, die jongste vroulike konsertmeester in Rusland, die solis in meer as 40 vertonings van ballette soos The Golden Age, Die Neutekraker en Swanemeer in die Metropolitan Hall in Tokio. Tydens ‘n besoek aan Suid-Afrika in 2000 tree sy as solis saam met die Kaapse Filharmoniese orkes op. Sy is tans hoof van die strykersdepartement aan die Universiteit van Kaapstad.

Diamond is leier van die Odeion Strykkwartet. Sy eerste kennismaking met musiek was in Soweto waar hy onder Rosemary Nalden, die stigtersdirekteur van Buskaid, studeer het, en verder in die Verenigde Koninkryk onder Richard Ireland, Pauline Nobes en Philippe Graffin. As ‘n vryskut-orkesspeler in Brittanje het Diamond in die Hallé Orkes, die Academy of St Martin in the Fields, die BBC Filharmoniese Orkes, die Manchester Camerata en die Academy of Ancient Music gespeel. Hy is gehoor in beroemde konsertsale saam met die Berlynse Filharmoniese Orkes in Berlyn, die Bela Bartok Nasionale Konsertsaal in Boedapest en die Musikverein in Wenen saam met die Academy of St Martin in the Fields onder leiding van sir Neville Marriner.

Na pouse speel die orkes Beethoven se grootse Simfonie No. 3, bekend as die Eroica. Alexander Fokkens is op die podium.
Kaartjies vir die konsert in die Odeion is by Computicket (Checkers, Shoprite-winkels) beskikbaar of bespreek aanlyn by www.computicket.com.

Kaartjies vir die konsert in Welkom kan slegs by die teater bespreek word. Skakel 057-357-1214 om ‘n telefoniese bespreking te doen of koop kaartjies by die teater op die hoek van Stateway en Rykstraat.