VS vrou met klip doodgeslaan; eggenoot in hof

0
842

‘n Vrystater sal na verwagting volgende maand weer in die landdroshof op Fauresmith verskyn, nadat hy na bewering sy vrou met ‘n klip doodgeslaan het.
Polisiewoordvoerder, Sinah Mpakane, sê Piet Booysen (40) het dié week vlugtig op ‘n aanklag van moord verskyn nadat hy op 13 September, enkele dae nadat sy vrou Magdalena se lyk langs ‘n pad in die Fauresmith-gebied gekry is, op ‘n plaas naby Philippolis aangekeer is.
Die hofverrigtinge is Maandag, tydens Booysen se derde verskyning, tot 14 November uitgestel, wanneer ‘n verhoordatum na verwagting vasgestel gaan word.
Booysen bly intussen in aanhouding nadat hy sy borgtogaansoek laat vaar het.
Mpakane sê volgens inligting het Booysen, Magdalena en nog ‘n man op 10 September omstreeks 02:00 by die Halfwegplaas, waar hulle werknemers is, gedrink en gekuier. Hulle het toe gestap na die plaas Forence, waar hulle bly.
Terwyl hulle gestap het, het Booysen na bewering begin om Magdalena te slaan. Die man wat saam met hulle was, het glo sonder sukses probeer om Booysen te keer. Hy het die egpaar toe daar gelos en besluit om verder te stap toe hy gesien het hoe Booysen sy vrou herhaaldelik met ‘n klip teen die kop slaan. Magdalena se lyk is die volgende middag gekry.
Mpakane sê Booysen is in 2010 op ‘n aanklag van aanranding skuldig bevind, nadat hy Magdalena ook met ‘n klip aangerand het. – Christal-Lize Muller/OFM Nuus