VS-tennisspelers val vas maar steeds genooi

0
899

GEORG VAN ECK

Ná ’n reeks uitstekende vertonings tel vier Vrystaters (o.12 en o.14) Hubert Badenhorst, Philip Henning en Joubert Klopper van Bloemfontein en Margo Landmann van Bethlehem onder die 20 Suid-Afrikaners wat genooi is of afrigting by Maria Sharapova se afrigter in Stellenbosch (6-11 November) te kry.
Nog drie Vrystaters van Oranje Hoër Meisieskool in Bloemfontein, Liza Moolman, en die Botes-tweeling, Louise-Maré en Huibré-Maré, het soos verwag hulle as o.16-spelers in die Stellenbosch Sportakademie se Internasionale Tennisfederasie se toernooi vir juniors (o.18) teen sterk teenstand vasgeloop.
Junior spelers van Suid-Afrika se buurlande, Zimbabwe, Lesotho, Namibië asook Nigerië, Malawi, Ghana, Brittanje, Italië, Rusland en Serwië het in die toernooi in Stellenbosch meegeding.
In Potchefstroom het twee Vrystaters, Hubert Badenhorst en Philip Henning, die eindrondtes van die Suid-Afrikaanse Nike-reeks se Meesterstoernooi (o.12 en o.14) gehaal.
Badenhorst is in die eindstryd deur die toernooi se leeutemmer, Nikolai Manchev van KwaZulu-Natal, 7-6 (5), 6-2 geklop.
Henning het in die o.12-eindstryd hardnekkig teenstand gebied voordat hy deur Christiaan Worst van Noord-Gauteng in ‘n wedstryd, wat byna drie uur geduur het, 5-7, 7-6 en 6-4 geklop is.
Die o.14 en o.12-titels vir meisies is onder- skeidelik deur Lee Barnard van Noordwes en Kaylin Bouwer van die Oostelike Provinsie verower.
In Stellenbosch het Oranje se o.16-spelers in die enkelspel die wind van voor gekry. Moolman het na die tweede rondte deurgedring deur Mabru Uys 6-2, 6-1 uit te skakel.
Die sesde gekeurde Huibré-Maré Botes het op verrassende wyse in die eerste rondte teen Mikayla Morkel-Brink 6-3, 6-4 vasgeval, terwyl haar tweeling-suster, Louis-Maré, deur die derde gekeurde, Jessica Simpson, 6-2, 6-2 uitgeskakel is.
Moolman het in die tweede rondte ook die slagoffer van Simpson 6-1, 6-1 geword.
Die Botes-tweeling het in die dubbelspel daarvoor vergoed deur as derde gekeurde paar na die halfeindrondte deur te dring. Hulle het Morgan Dickason/Danielle du Plooy 6-2, 6-2 asook Maxine Bateman/Danica Brewer 6-2, 6-0 geklop.
Hulle is egter in die halfeindronde deur die eerste gekeurde paar, Nicole Dzenga van Zimbabwe en Elizabeth Kapari van Ghana, 6-2, 6-3 gestuit.