LANI FOUCHÉ
‘n Tweede hof word nou genader in die stryd van Vrystaatse staatsdokters om hul privaatpasiënte te mag hou. Die Vereniging van Staatsamptenare gaan hul tot die arbeidshof wend om die beplande opskorting van privaatwerk vir staatsdokters te keer.
Dit kom nadat die LUR vir gesondheid, Benny Malakoane, verlede maand aangekondig het dat staatsartse met onmiddellike effek nie meer privaatpasiënte in hul werksure mag sien nie.
‘n Dringende hofbevel is egter kort daarna deur die Vrystasatse Hooggeregshof toegestaan wat dié opdrag vir dertig dae ter syde stel, hangende ‘n hersiende aansoekverslag van die LUR. VSA woordvoerder Gerhard Koors sê hulle het Malakoane genooi om in gesprek hieroor te tree, maar wag steeds op ‘n antwoord.
"Ons gaan binne die volgende twee weke die Arbeidshof nader om ‘n bevel te verkry wat dan die bevel deur die plaaslike werkergewer, die gesondheidsdepartement, gaan opskort. Dit volg ook na aanleiding van ons vorige onsuksesvolle pogings om met die uitvoerende raadslid in gesprek te tree. So ons sal maar sien binne die volgende paar weke wat die arbeidshof oor hierdie aangeleentheid gaan besluit."
Die Vrystaatse gesondheidsdepartement het vroeër gesê staatsdokters steel kosbare tyd en geld van die staat wanneer hulle hul werksure gebruik om privaatpasiënte te spreek.
Koorts ontken dit egter, en sê as dokters verbied gaan word om van die 1994-goedgekeurde RWOPS-sisteem (Remunerated Work Outside the Public Serve) te gebruik, gaan dit meer nadele as voordele vir die departetment inhou.
Malakoane het aangekondig dat RWOPS-dokters met behulp van ouditeure en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) ondersoek sal word om gevalle van misbruik te ontbloot.
Hy het egter aan dokters ‘n geleentheid gegun om na vore te kom indien hulle die stelsel misbruik, wat hulle dan van strafregtelike vervolging sal vryskeld.