VS spanne pak mekaar in potspel/swartbal

0
646

Vrystaat Swartbal Potspel (Pool) bied Saterdag (16 Februarie) sy jaarlikse uitspeel-kampioenskappe in die Loch Logan Waterfront, by Kloppers se ingang, aan om te bepaal wie regtig die beste span in die Vrystaat is. Daar word beplan om van 13:00 tot 16:00 te speel. Alles sal afhang van hoe vinnig die een span die ander kan klop. Vir belangstellendes is dit dus belangrik om reeds teen 12:00 daar te wees. Swartbal Potspel in die Vrystaat het oor die afgelope vyf jaar geweldig gegroei en sukses behaal.
Voor 2012 kon die Vrystaat nog nooit ’n goue medalje in die spankompetisie van die nasionale kampioenskappe verower nie, maar het verlede jaar geskiedenis in Nelspruit tydens die nasionale toernooi gemaak, toe Vrystaatse spanne in die o.18- en o.23-afdeling met die titels weggestap het.
Sedert die stigting van Vrystaat Swartbal Potspel het die Vrystaat reeds agt Protea-spelers gelewer. In 2012 het vier spelers gekwalifiseer vir Proteakleure.
Die twee spanne wat Saterdag in aksie sal wees, is die Shooter-span van die Weermag Potspel Klub en die Kokkerotte-span van Welkom. Die Shooter-span spog met twee Protea-spelers en vier Vrystaatse provinsiale spelers. Twee van die spelers is nog op skool op Grey Kollege en Laerskool Universitas.
Die Kokkerotte-span van Welkom spog met onder meer ’n gestremde speler (rolstoel) wat al vir sy nasionale en Vrystaatse kleure in agt bal gekwalifiseer het. Van die ander spelers het ook Vrystaatse SAPD-kleure.
Elke span bestaan uit vyf spelers met een reserwe. Elke speler van die een span speel teen al die ander spelers van die opponerende span. Die span wat eerste 13 potte bereik, sal as die Vrystaat se spankampioen gekroon word.
Vir enige navrae kan David Kriel by 051-402-1004, 083-642-461 of davidkriel@gmail.com gekontak word.