VS-span wen SA ponieruiter-dresseerkampioenskap

0
1134

Die Suid-Afrikaanse ponieruiter-dresseerkampioenskap (16 jaar en onder) het van 2 Junie tot 5 Julie 2015 in Pietermaritzburg plaasgevind. Die nasionale kampioenskap word elke jaar deur 'n ander provinsie aangebied en hierdie jaar was dit KwaZulu-Natal se beurt om gasheer te speel vir dié prestige-geleentheid.
Ruiters van Bloemfontein en Welkom het skoonskip gemaak. Leonore Visser en haar ponie Maestoso Erdem (Bloemfontein), is gekroon as individuele Suid-Afrikaanse kampioen en Chanel Jacobs en haar ponie Sherwill Valedictory (Bloemfontein) is gekroon as die reserwekampioen in die ope dresseerafdeling. Nog 'n Bloemfonteinse ruiter, Marlouise le Roux, het 3de plek losgery. In die Kur-dresseerkampioenskap (toets wanneer op musiek gery word) het Chanel Jacobs ook met die nasionale titel weggestap, met Leonore Visser as reserwekampioen terwyl Marlouise le Roux (Bloemfontein) derde was.
Die Vrystaatse span, wat bestaan uit Leonore Visser, Chanel Jacobs, Marlouise le Roux, Danielle Kleynhans (Welkom) en Runé Edeling (Bloemfontein), het ook in die interprovinsiale spankompetisie met die goue medalje weggestap. Nog 'n Bloemfonteinse ruiter, Johane Janse van Rensburg, het presteer deur 4de in die beginnersafdeling te eindig.
Die Vrystaat-span het ook skoonskip gemaak in die Suid-Afrikaanse dresseeruitdaging wat regoor oor die land in nege provinsies gehou is.
Chanel Jacobs en Sherwill Valedictory is eerste in Suid-Afrika op die ranglys geplaas in die medium-FEI-dresseerafdeling.
Chanel Jacobs en haar junior perd Doornkop Zodwa, is ook eerste op die ranglys in Suid-Afrika in die junior nuweling-dresseerafdeling.
Rochelle Jacobs en Brylia Cotton Club is eerste op die ranglys in Suid-Afrika in die elementêre FEI-dresseerafdeling.