VS skitter by SA landloopkampioenskap

0
411
Die Vrystaatspan vir dogers o.14 -Inge van Staden, Carise van Rooyen, Mieke Britz en Andrea Steynberg FOTO: MELANIE BRITZ

Die 2021-Atletiek Suid-Afrika landloopkampioenskap het oor die afgelope naweek in in Amanzimtoti in KwaZulu-Natal plaasgevind en die Vrystaters het hul stemme deeglik dikgemaak.

Voor die kampioenskap is daar baie bespiegel of die kampioenskap wel sou plaasvind en in watter hoedanigheid.

Vrystaat het ‘n sterk span na die byeenkoms gestuur, wat glad nie teleurgestel het nie en hul goed van hul taak gekwyt het.

Die ster van die dag was sonder twyfel die gesoute langasem, Kesa Moletsane, wat goud beklink het in die 10km vir senior vroue toe sy die wenstreep in 37:19 oorgesteek het. Sy het Kyla Jacobs met ses sekondes geklop, terwyl die plaaslike atleet, Jenet Mbhele, die bronsmedalje gewen het in ‘n tyd van 37:32.

Vrystaat was vyfde in die spankompetitsie en dit is hier waar die meisies van Eunice geskitter het. Eunice spog met vyf medaljewenners, wat meer aan enige van die ander skole in Bloemfontein is. Die medaljewenners is Minke Ferreira, Lisabelle Beukes, Lameez Ishmailseedat, Mika Leigh Strydom en Inge van Staden.

In die meisies o.9-kompetise het Munay Uys, Minke Ferreira, Beile Groenewald en Karmi Verster die silwermedalje beklink. Die seuns-o.9-span met Tumelo van Wyk, Tefo Motloung, Janco Ferreira en Itumeleng Mphondo het ook die silwermedalje ingepalm.

Chani Brits, Ebeth Strydom, Lisabelle Beukes en Lameez Ishmailseedat het in die meisies o.10 die bronsmedalje gewen, terwyl Thembinkosi Mduli, Abraham Viljoen, Erik du Plooy en Eduan Booysen die seuns o.10-silwer gewen het.

Carla Brits, Nthabiseng Nyapotse, Mika Leigh Strydom en Palesa Moahla silwer beklink vir meisies o.12.

Die o.14-meisiespan met Mieke Brits, Andrea Steynberg, Carise van Rooyen en Inge van Staden het die bronsmedalje verower, terwyl die seuns o.14-span met Gerhard Bossert, Sabelo Segola, Tshepiso Mosia en Mmatli Mphatseng ook brons ingepalm het.

Individuele medaljes het behoort aan Munay Uys met silwer in die meisies o.9, Carla Britz brons vir meisies o.12 brons en Moletsane se goud vir senior vroue. – MORGAN PIEK