Dirk Kok
Die Vrystaatse verkiesingshoof, Chris Mepha, sê die provinsie se verkiesingsuitslag behoort teen vroeg vanmiddag bekend te wees. Die uitslag van Mangaung, die grootste kiesersgebied, sal laaste afgehandel word. Mangaung se stemme sal, as daar nie probleme is nie, tussen 12:00 en 14:00 klaar getel wees. Mepha en sy personeel is vroegoggend deur die minister van binnelandse sake, Naledi Pandor, in die provinsiale uitslagsentrum in Bloemfontein besoek. ’n Moeë Pandor, nog in dieselfde rok as gister, was in die Vrystaat om die verkiesing as deel van die ministriële veiligheidsgroep te monitor. Pandor, wat deur die nag gewerk het, het aan Courant gesê die verkiesing in die Vrystaat het goed afgeloop. Sy verwag ’n baie goeie stempersentasie. Pandor het van Bloemfontein na die nasionale uitslagsentrum in Pretoria vertrek. Sy het gesê sy sal eers weer rus wanneer die uitslag van Verkiesing 2014 bekend is.