VS Rugby-unie vir Dowes soek spelers

0
1221
Komiteelede van die Rugby-unie vir Dowes is, voor, Franco Louw (president); en van links, Hanjo Bester (vise-president), Rohanne Esterhuize (sportorganiseerder), Carla Bester (sekretaresse, media en bemarking en Christelle Botha (IT).

Op 16 Oktober 2018 is geskiedenis gemaak toe die Vrystaat Rugby-unie vir Dowes sy eerste komiteepaneel, wat uit inwoners van Bloemfontein bestaan, verkies het. Sedert 1995 het die Suid-Afrikaanse Rugby-unie vir Dowes baie ligawedstryde teen internasionale spanne soos Nieu-Seeland en Wallis gespeel. Dowe-spanne bestaan tans slegs in Gauteng en die Wes-Kaap, wat dit moeilik maak vir dowe persone uit ander provinsies om deel te neem.

Die nuutverkose sekretaris van die paneel, Carla Bester, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die komitee besluit het om dowe rugby in die Vrystaat uit te brei. “Wanneer ons span gevestig is, gaan ons op die uitkyk wees vir meer spelers met die hoop om die provinsiale unie uit te brei en ‘n interne kompetisie te vestig deur ‘n rugbyklub vir dowes in die Vrystaat te skep,” het sy gesê.

Die unie is tans op soek na meer spelers terwyl daar voorberei word vir ‘n interprovinsiale rugbytoernooi vir dowes, wat dalk in Bloemfontein gehou kan word. Daar sal vier afdelings vir dowes wat aan die toernooi deelneem wees en waarvan Vrystaat-spelers deel sal wees aangesien hulle nog nie genoeg is om ‘n span op hul eie te maak nie.

Bester het verduidelik dat hulle graag sou wou hê dat die spelers deelneem aan hoofstroomligas totdat daar genoeg interne kompetisie is om die stigting van dowe ligas te regverdig, aangesien spelers die kans sal hê om hul vaardighede op te bou en daar bewuswording geskep word deur saam met en teen spelers met gehoor mee te ding.

“Ons het tans net ses geregistreerde manspelers en drie vrouespelers. Dit sluit ook die ontwikkeling van dowe skeidsregters in, hoewel dieselfde reëls vir rugby vir dowes as vir die van normaal horende spelers geld. Die enigste verskil is dat die skeidsregter gebaretaal moet gebruik wanneer skrums gevorm word en hierdie gebare onder die twee voorrye gebruik word. Daar is op die oomblik slegs een gekwalifiseerde dowe skeidsregter in die land wat vir die wedstryde gebruik kan word,” het sy bygevoeg.

Volgens Bester is enige persoon wat iemand ken wat doof is, of wat self doof is en graag wil deelneem, welkom om die Rugby-unie vir Dowes te kontak via WhatsApp of per SMS aan 076-981-2526. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za