Nie minder nie as 24 Vrystaat-skolerekords is die naweek by die provinsie se hoërskole-atletiekkampioenskappe in Bloemfontein opgestel. Blandina Makatisi (Trompsburg), wat die meisies 19 jaar 5 000 m-rekord (19:00.46) van Sylvia Dibakwane (HTS Sasolburg) met meer as ’n minuut na 17:54.95 verbeter het deur Dibakwane (tweede, 20:03.56) met meer as twee minute te klop, gaan nie noodwendig op nasionale vlak presteer nie.
Makatisi se rekord vergelyk nie goed met die lys van beste vertonings van alle tye nie, maar sy het duidelik genoeg talent om eersdaags in een van die land se beste langasems te ontwikkel. Makatisi, wat die 3000 m (10:20.62) ook gewen het, het nie een keer in een van die wedlope gelyk of sy voluit hardloop nie. As daar een man is wie se rekord méér as noemenswaardig is, is dit die skitterende hamergooier, Tshepang Makhethe (HTS Sasolburg). Makhete het in die 17 jaar-afdeling sy hamer 72.70 m ver geslinger en die Vrystaat-skolerekord van Robert Janse van Rensburg (Welkom Gimnasium, 2010) van 63.19 m met bykans tien meter verbeter.
Makhete is nou die tweede beste jeug-hamergooier wat Suid-Afrika nog ooit opgelewer het. Slegs Werner Smit het al verder as hy gegooi (2000, 79.79). In die hamergooi vir meisies 17 jaar het Stefanie Greyling (HTS Sasolburg) met ’n goeie gooi van 54.44 m losgetrek en dié afstand is heelwat verder as die Vrystaat-skolerekord van 49.12 m. Die twee puik hekkiesatlete (meisies 14 jaar), Anja Kotzé (Jim Fouché) en Ane-Scha Erasmus het in die 90 m-hekkies met ’n interessante Vrystaat-skolerekord-tweestryd vorendag gekom. Erasmus het in die uitdunrondes die Vrystaat-rekord (14.10) na 14.00 verbeter.
In die eindstryd het Kotzé in 13.65 gewen en daarmee verbeter sy Erasmus se dag-oue rekord. Erasmus, wat tweede geëindig het, het ook weer die Vrystaat-rekord met 13.85 oortref. Gemeet aan nasionale standaarde van alle tye in die land het Ryno Steyn (Grey) ’n indrukwekkende 110 m-hekkies (19 jaar) genael. Hy het in die uitdunrondes van die goeie weerstoestande gebruik gemaak en die Vrystaat-skolerekord (13.92) na 13.88 verbeter.