Vs politici wys ‘slim vang sy graad’

0
3608
Jeanine Nothnagel by haar studieleier, professor L. Lategan (links) en professor A. Strydom, dekaan van Bestuurswetenskappe aan SUT.

Slim vang sy baas” is ‘n uitdrukking wat dikwels met verwysing na politici gebruik word. Maar in die geval van twee prominente Vrystaatse politici was dit onlangs eerder “slim vang sy graad”.
Dié twee, Roy Jankielsohn van die DA en Jeanine Nothnagel van die ANC, het gewys dat mens tussen al die politieke vergaderings tog tyd kan maak vir die boeke. Hulle het albei vanjaar hul doktorsgraad verwerf.
Jankielsohn het sy doktorsgraad in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit verwerf, terwyl Nothnagel haar doktorsgraad in Besigheidsadministrasie aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie verwerf het.
Nothnagel sê sy het nie studeer vir ‘n titel nie, maar omdat sy van jongs af die akademiese leer wou klim. Sy beskou studeer as ‘n stokperdjie, daarom het sy reeds na ‘n nuwe graad begin kyk om volgende aan te pak. Sy oorweeg ‘n kursus in Lewensafrigting en Leierskap.
“My familie en vriende het my gedra in hierdie tyd. Hulle was my steunpilare. Ek het regtig ‘n baie goeie ondersteuningsnetwerk,” het Nothnagel gesê. Wat die gradeplegtigheid vir haar ekstra spesiaal gemaak het, was haar vriende en familie se teenwoordigheid. Daar het mense Bloemfontein toe gevlieg om die geleentheid by te woon.
“Die Here het my regtig geseën met goeie vriende en familie en ‘n goeie studieleier, prof. L. Lategan. Die Here het geweet ek het hierdie mense nodig om my te dra deur die tyd wat ek my studie voltooi het.” Sy het afgesluit met ‘n woord van motivering: “Jy kán, enigiemand kán!”

Roy Jankielsohn by sy studieleier, professor André Duvenhage, van Noordwes-Universiteit.

Jankielsohn sê die studiegogga het hom gebyt nadat sy pa hom gedwing het om te gaan studeer. Hy wou oorspronklik ‘n huursoldaat geword het nadat hy sy diensplig voltooi het. Sy pa het hom egter by die Universiteit van die Vrystaat ingeskryf waar hy sy BA-graad, twee honneursgrade en ‘n meestersgraad voltooi het.
“In 2016 het ek vir doktorale studie aan die Noordwes-Universiteit onder leiding van prof. André Duvenhage ingeskryf. Die studie het baie tyd in beslag geneem, maar volgens my kollegas het dit glad nie ingemeng met my amptelike werk as leier van die opposisie in die Vrystaatse Wetgewer nie. Ons het ‘n baie lekker DA-span en ondersteun mekaar met alles wat ons aanpak.”
Hy noem ook dat sy gesin baie geduldig met hom was in die tydperk van sy studie. “‘n Doktorsgraad is nie ‘n maklike projek om aan te pak nie en dit verg baie werk en deursettingsvermoë. Daar is geen kortpad nie!” het Jankielsohn gesê. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za