VS Onderwys vra publiek om weg te bly van skole

0
909
FOTO: iStock

Die Vrystaatse Onderwysdepartement het ouers en lede van die publiek gevra om eerder nie skole te besoek nie as deel van strenger maatreëls teen die verspreiding van Covid-19.

Volgens OFM Nuus, volg dit nadat verskeie skole in die provinsie genoodsaak is om hulle deure tydelik te sluit.

Woordvoerder van die Provinsiale Department van Onderwys, Howard Ndaba, sê onderwysers, administratiewe personeel en kinders het in verskeie skole positief getoets en skole moet nou lesse aanlyn aanbied.

Hy sê by een van die skole in Bloemfontein, Eunice Hoërskool, is leerders – insluitende diegene in die koshuis – huis toe gestuur. Ndaba sê die skool gaan weer op 31 Mei sy deure heropen. Leerders gaan van vandag af aanlyn lesse kry.

Nog ‘n skool, Tebang Primêre Skool, is gesluit nadat 5 onderwysers en 11 leerders positief getoets is. Skole in die Xhariep-streek is die ergste geraak met altesaam een onderwyser wat oorlede is, 14 wat positief getoets het en 30 kinders in isolasie nadat hulle getoets is.

Howard sê in ‘n poging om die verspreiding van die pandemie te bekamp het hulle gevra dat besoekers net in noodgevalle by skole toegelaat word.

OFM-nuus/Cathy Dlodlo