VS lewer meeste prehistoriese artefakte op

0
1519

Stel jou voor, jy kyk uit oor die kamp waar ’n vuurtjie smeul. Êrens sit ’n klompie vroue wilde koringkorrels met slypklippe en maal. Onder ’n boom word volstruiseierdopkrale gemaak. Dit alles word gedoen met die hulp van spesiaal ontwerpte en komplekse gereedskap.

Dit klink dalk soos ’n stukkie fiksie, maar dít is wat mense se alledaagse bestaan sowat 12 000 jaar gelede in Suid-Afrika behels het. Daar is gejag, kos is voorberei en soms moes jy teen die natuur vir jou lewe veg. Mense het hiervoor gereedskap nodig gehad, wat hulle uit klip, hout en selfs eierdoppe gemaak het en waarvan
die meeste in die Vrystaat ontdek is, vertel Ilan Smeyatsky, argeoloog aan die Universiteit van
die Witwatersrand.

’n Rotskunsuitbeelding van diere en dansers op ’n paneel by Game Pass. FOTO: BRADSHAW FOUNDATION

Baie van die prehistoriese artefakte waarmee Smeyatsky te doen kry is oorspronklik in die Vrystaat
ontdek. Hy vertel in sy navorsing fokus hy op wat bekendstaan as die Later Steentydperk en die gebruik
van pylpunte. Smeyatsky sê as ons fokus op die Later Steentydperk-pylpunte, waarom sy navorsing draai, is die
meeste artefakte in die omgewing van Bethlehem (Roosfontein), Kroonstad en Rose Cottage gevind.

“Die aantal pylpunte is klein in vergelyking met ander ontdekte artefakte in die sin dat slegs sewe pylpunte ontdek is. Dit is juis wat pyplpunte so ongelooflik besonders en interessant maak. Pylpunte is in 1983 en 2000 in Bethlehem opgegrawe, dié van Kroonstad is in 1975 ontdek en die by Rose Cottage in 2000. Daar is dalk net ’n paar, maar dit is baie in vergelyking met wat ander streke in Suid-Afrika opgelewer het. Ek is oortuig daar is baie meer in die
 rystaat waarvan ons net nie weet nie.”

Rose Cottage Cave, is op die Platberg ongeveer 3km  oos van Ladybrand geleë en is die bekendste terrein vir uitgrawings in die Vrystaat. Dit het duisende artefakte van die Later Steentydperk en die MiddelSteentydperk
opgelewer, maar slegs een pylpunt. Smeyatsky meen die groot aantal Later Steentydperk-uitgrawingsterreine in die Vrystaat is baie spesiaal.

“My navorsing vereis dat ek pylpunte van regoor die land wat reeds ontdek en opgegrawe is, opteken en ondersoek. Dit is egter ’n besonder uitdagende taak omdat mense soms nie eens weet hulle het op ’n raar artefak afgekom nie. Wat ons navorsing verder bemoeilik is dat, behalwe vir die klein aantal artefakte wat in museums bewaar word, baie van hierdie pylpunte oor die jare deur private versamelaars bymekaargemaak is.” Smeyatsky meen dit word vermoedelik weens die artefakte se skoonheid en
rariteit versamel.

Die realiteit is egter dat universiteite en museums ongelukkig nie oor veel inligting beskik oor wie werklik privaat versamelings het nie, asook nie wat in hierdie versamelings opgesluit is nie.

Hy vertel Suid-Afrika het ’n skatkis van artefakte en dit blyk dat die oorgrote meerderheid van die Later Steentydperk-artefakte in die Vrystaat, en meer spesifiek op plase, ontdek word. Oor die jare het universiteite nou saamgewerk met boere wat hulle in staat gestel het om byvoorbeeld rotskuns op hul eiendom na te vors of selfs
artefakte uit te grawe.

“Die probleem wat ons as navorsers in die gesig staar is dat daar baie van hierdie artefakte op plase rondlê en nog gevind mag word. Mense weet nie wat om met hul ontdekkings te doen of wie om te kontak sodat hierdie kosbare en in huise stof versamel nie, terwyl dit onskatbare waarde sou toevoeg tot navorsing wat ons ’n beter blik op die verlede kan gee.”

Voorbeelde van klippylpunte wat in Suider-Afrika gevind is.

Smeyatsky is tans op die uitkyk  vir klein klippylpunte (soos op foto). Hulle is oor die algemeen nie groter as 5cm in lengte nie, maar kan so klein wees as net 1cm in lengte. Hierdie spesifieke artefakte is uiters skaars, maar hulle kan die sleutel hou tot die identiteit van hierdie groepe prehistoriese jagter versamelaars, wat vir argeologiese navorsing ’n groot deurbraak sal wees.

“Ons stel nie belang om hierdie artefakte by mense af te neem nie, maar sou graag wou hê dat mense wat dit het ons kontak sodat dit gedokumenteer kan  word. Natuurlik sal elke persoon wat ons met ons navorsing help erkenning kry vir sy bydrae.

Pylpunte kan ongelooflik wees, enige iets tussen 1cm-5cm lank. Dit is van klip gemaak en soms is dit gebreek en lyk dalk nie na ’n pylpunt nie. Omdat dit baie bros is breek dit maklik. Ons wil egter ook van die gebreektes hoor.”

Enige persoon wat Smeyatsky wil kontak kan dit doen deur ’n e-pos te stuur aan ismeyatsky@gmail.com of hom te bel by 083-562- 7295. – Maricelle Botha

maricelle@centralmediagroup.co.za