VS het “perfekte Olimpiese atleet” in wording

0
VS het “perfekte Olimpiese atleet” in wording

GEORG VAN ECK

“Die perfekte atleet. Selfs as ’n moderne vyfkamp-atleet nie as oorwinnaar uit die stryd tree nie, is hy deur sy deelname ’n perfekte Olimpiese atleet!”
Só het die vader van die moderne Olimpiese Spele en die man wat Pentathlon (moderne vyfkamp) geskep het, Baron Pierre de Coubertin van Frankryk, dié uitputtende en veelsydige sportsoort beskryf. En die Vrystaat en Bloemfontein het sy eie perfekte Olimpiese atleet in wording.
Dié atleet van die Hoër Meisieskool Oranje, Jayme-Sue Vermaas (graad agt), het pas twee goue medaljes op die Wêreld-biathlekampioenskappe (biathlon/tweekamp) in die Jeug C-afdeling in Dubai verower. Sy was eerste in die Jeug C-afdeling (swem en hardloop).
Saam met haar spanmaats Mizan Viljoen (Willem Postma, vierde) en Zelda van der Merwe (Oranje Laer, vyfde) het hulle ook die Jeug C-spankompetisie teen die bestes ter wêreld verower.
Die appel val nie ver van die boom nie, want haar ma, Rika Vermaas, was tweede in die Vroue-meesters B (50-jariges).
“Ons is wonderlik bevoorreg om saam deel te kan neem,” het Rika gesê. Hulle was deel van ’n groep Vrystaters in die Suid-Afrikaanse span wat aan die kampioenskappe deelgeneem het.
Dié prestasie is net ’n deeltjie van Jayme-Sue se veelsydigheid. Sy blink ook in die ander drie dissiplines van moderne vyfkamp (skerm, perdespring en pistoolskiet) uit.
“Een van die voordele is dat Jayme saam met haar boesem-vriendin Heidimarie Edeling kan perdry, terwyl sy ook saam met maats swem en hardloop,” het haar ma, onderwyseres by Tinktinkieland van Oranje, verduidelik.
Die stralende Jayme-Sue is beskeie oor haar prestasies. Dit verg delf om meer te wete te kom.
“Ek hou van al vyf die sportsoorte en probeer om in almal goed te doen,” verseker sy jou plegtig.
Dit is eers later ná ’n gesprek met haar ma dat jy uitvind dat Jayme-Sue vanjaar ’n eerste plek op die Suid-Afrikaanse moderne vyfkampioenskappe in haar ouderdomsgroep (o.14) behaal het. Dit sluit pistoolskiet in asook perdespring met ’n vreemde perd, wat deur die vyfkamp-vereniging verskaf word.
In moderne vyfkamp skerm deelnemers met die degen en met dié swaarder wapen het sy derde op die Suid-Afrikaanse Skermkampioenskappe geëindig, terwyl sy met die ligter floret ’n silwermedalje verower het.
Om alles te kroon, oefen sy onder leiding van haar afrigter, Gunther Schröder, teen seuns. Skrik dit haar af? “Nee wat,” verseker sy jou, want skerm verg tegniek, finesse en koördinasie, wat sake gelyker maak.
Uitstekende afrigters, hegte vriende en die feit dat sy uit ’n sportfamilie kom maak dit vir Jayme-Sue makliker om te presteer. Behalwe haar ma is haar pa, dr. Adri Vermaas, tans die voorloper in die nasionale BSG-driekampreeks en het haar ouer broer, Jean, hom in driekamp laat geld. Studies aan Kovsies hou hom té besig om nou ernstig deel te neem.
Sy oefen perdry saam met haar groot vriendin Heidimarie Edeling en hulle kry saam afrigting van die Duitse afrigter van die Kaap, Armin Fritz.
Die bekende Kovsies, Sarina Cronjé, rig Jayme-Sue in atletiek af, terwyl Marco Markgraaff haar swemafrigter is.

No posts to display