VS gestremde swemmers ryg medaljes in by SA’s

0
833
RUFUS BOTHA

Hoewel die Vrystaat se swemspan slegs een medalje in die seniorafdeling kon verower by die Suid-Afrikaanse swemkampioenskappe wat verlede week in Durban beslis is, het die provinsie se twee swemmers met fisiese gestremdhede, Johann van Heerden en Yvonne Smith silwerware versamel asof dit hulle laaste nasionale kampioenskap was.

Die haastige borslagswemmer van die Kovsies, Francois Theron was die enigste Vrystater wat by die seniorkampioenskap ‘n medalje kon verower. Hierdie yster se opwaartse peil is indrukwekkend en hy is boonop besig om hom te vestig as een van die land se borsslagswemmers om mee rekening te hou.

Theron het by die byeenkoms wat gewemel het van internasionale en Olimpiese-spele swemmers in die 200 m-borslag sy staal gewys deur die bronsmedalje in die 200 m-borslag te buit. Hy het ‘n kookwater 2:17,75 aangeteken in ‘n nommer wat die swemsensasie van Kwazulu-Natal, Ayrton Sweeney in ‘n wêreldklastyd van 2:11,64 gewen het.

Theron se tyd was egter slegs 25-honderstes van ‘n sekonde kort van die silwermedaljewenner, Jarred Crous (Northern Tigers Swimming) se tyd van 2:17,50.

Smith, wat in die S14-afdeling vir swemmers met gestremdhede swem het sover vasgestel kon word nege medaljes losgeswem en vier hiervan was goud, vier silwer en een brons van kleur.

Sy het op die tweede dag van die kampioenskap die eerste keer die boonste trappie van die podium bestyg nadat sy die 100 m–borslag (S-14 en S15) loshande in 1:31,06 gewen het. Sy het die silwermedaljewenner, Christelle Kriel (Mpumalanga, 1:38,60) kis geswem.

In die 50 m-vryslag het Smith weer amok gemaak en in ‘n kookwater 31,00 geseëvier. Sy het Cornell Loubser (Noordwes, 32,18) maklik in die tweedeplek ingeswem.

Smith het ook goud verower in die 50 m-borslag (41,26) en 200 m-wisselslag (2:47,15).

Van Heerden het weliswaar en sover vasgestel kon word nie ‘n eersteplek losgeswem in sy kategorie (S-13) vir swemmers met gestremdhede nie, maar het gekwalifiseer vir deelname aan die wêreldkampioenskap. Twee van sy medaljes was vir puik tweedeplekke in die 100 m-borslag en 200 m-wisselslag.

Die Vrystaat het by die kampioenskap algeheel ‘n noemenswaardige sesdeplek uit 12-swemprovinsies behaal.