VS-gesondheid gaan nie beperkte voorraad duld nie

0
556

CHRISTAL-LIZE MULLER

Die Vrystaatse gesondheidsdepartement gaan nie ‘n tekort aan mediese toerusting by plaaslike instansies duld nie. Dit is die boodskap van die provinsiale LUR van gesondheid, Benny Malakoane, nadat Bloemfontein Courant gister berig het personeel van die Moroka-hospitaal in Thaba Nchu se veelvoudige middelweerstandige tuberkulose-eenheid het nie N95-maskers tot hul beskikking nie.

Malakoane sê niemand het ‘n verskoning om nie noodsaaklike toerusting beskikbaar te stel nie, want die departement het geld om dit aan te koop.

Na wat verneem word het hospitaalbestuur glo Maandag opdrag gegee dat personeel ander maskers, wat minder beskerming bied, as plaasvervanger vir die N95-maskers gebruik.
 
Malakoane sê hy is nie bewus van ‘n tekort aan die voorgeskrewe maskers nie, maar gaan ondersoek instel.

Die Vereniging vir Staatsamptenare se Gerhard Koorts het vroeër aan Bloemfontein Courant gesê verpleegpersoneel van dié eenheid weier om pasiënte te verpleeg sonder die voorgeskrewe maskers, omdat hulle bang is dat hulle die gevreesde TB kan opdoen.