VS-brande hou geen verband met brandstigting

0
371
Skade van verlede week se veldbrande in die Suid-Vrystaat. FOTO: Vrystaat Landbou

Die geskatte strukturele skade van verlede week se veldbrande in die Suid-Vrystaat word beraam op R2,7 miljoen. 67 000 ha veld is vernietig en boere in die area het 2 017 beeste, 1 953 skape en 415 stuks wild verloor.

Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê  hoewel die brand saamgeval het met die aanvang van die plundering in KZN en Gauteng, daar geen bewyse is dat die brande hier deur brandstigters veroorsaak is nie.

VL is dankbaar om te kan sê dat daar geen menslike sterftes of ernstige beserings was nie.

Volgens Francois Wilken, president van VL, het die organisasie ‘n aanlyn-opname onder boere wat deur die brande geraak is, gedoen. Hy sê dat daar op 15 Julie nog boere besig was om opvlam-brande te bestry asook ander wat gewonde diere gedokter en dooie diere verwyder het en dus nog nie kans gehad het om die opname te voltooi nie.  Sommige boere het ook nie ‘n selfoonsein nie, aangesien die brande infrastruktuur vernietig het.

Wilken noem dat die onmiddellike behoeftes soos aangedui deur die betrokke boere meestal vir veeartsenery-voorrade, watervoorsiening, voer- en voeraanvullings vir die oorlewende diere is totdat  hulle alternatiewe planne kan maak om die winter deur te sien en die weiding vir die nuwe seisoen weer gegroei het.

“Voorbeelde van behoeftes in volgorde van onmiddellike prioriteit is:  Finansiële skenkings om diesel te finansier om voer en voorrade wat reeds geskenk is, te vervoer; Voerdonasies soos dieremedisyne (wondsproei, antibiotika, ens.); Diesel; Waterpype en –toebehore; Omheiningsmateriaal.”

Armour sê dat daar met VL in aanraking gekom kan word vir kontakbesonderhede van die boereverenigingverteenwoordigers en -koördineerders vir voerhulp by verskillende strategiese aflaaipunte.

Enigiemand wat die betrokke boere wil bystaan, kan dit doen deur VL se webwerf te besoek by https://vrystaatlandbou.co.za/fire-disaster-fund

Saamgestel deur Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za