VS boere se woede oor paaie kook oor

0
661
Vrystaatse boere versper die S86-pad naby Allanridge met bakkies en sleepwaens.

Vrystaters se misnooë oor swak diens en vervalle paaie het vanoggend oorgekook toe talle boere in die Allanridge-omgewing die S86-pad met bakkies en sleepwaens versper het.

Boere het tot aksie oorgegaan om hul ontevredenheid met die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer te demonstreer weens dié departement se onvermoë om die R30-pad te herstel.

Luidens ‘n verklaring van Vrystaat Landbou (VL) is die R30 naby Allanridge, wat al as die “pad van die dood” bekend staan, reeds geruime  tyd uiters gevaarlik nadat bogemiddelde reën in Januarie en Februarie geval het en die pad onbegaanbaar geraak het.

Die verkeer het vanoggend vinnig opgehoop nadat boere die S86-pad versper het.

Rudi Jansen van Vuuren, ’n boer van die omgewing, het aan VL gesê die verkeer van die R30 word nou na die S86 herlei, wat nie net vir die publiek ‘n gevaar inhou nie, maar ook vir boere en hul werkers.

“Dit is strooptyd en daar beweeg trekkers en stropers op die pad. Sekere motoriste ry baie onverskillig en ons wil keer dat iemand seerkry. Dit maak ook nie sin dat die departement mense dwing om ’n ompad van 18km te gebruik, terwyl slegs 400m (op die R30) herstel moet word nie,” her Jansen van Vuuren gesê.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê die organisasie poog al geruime tyd om met die Vrystaatse Premier oor die paaiekwessie in die provinsie te vergader, maar het nog geen reaksie of terugvoer ontvang nie.

Verwerk deur Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za