VS-boere benodig steeds hulp ná brande

0
798

Die boeregemeenskap in die Vrystaat is oorweldig deur die vrygewigheid van die publiek, mense wat hul harte oopgemaak het om die boere en boeregemeenskap wat deur die brande geraak is, te help.

Luidens ‘n verklaring van Vrystaat Landbou, is die Boshof- en Hertzogville-gemeenskap die ergste deur die onlangse veldbrande geraak. Daar word by skenkers gepleit om die volgende drie tot vier maande broodnodige veevoer daar te skenk, veral as dit nader is vir hulle.

Die huidige behoeftebepalings is vir voedingsaanvullings soos korrels, lekke en melasse om die droë gras en bale wat geskenk word, meer smaaklik te maak en die vee weg te hou van die sagte graslote wat uitloop ná die brande en die welkome reën wat die afgelope naweek uitgesak het.

Produkte wat spesifiek aangevra word is: LS33 – Melassestroop /meel en Meester 20 – Super 18, ens., lui die verklaaring.

Vrystaat Landbou sê ook dat hulle kyk na die gebruik van die fondse wat ontvang is om veevoer en korrels in grootmaat in te koop, om diesel te betaal vir die vervoer van voer- en veeskenkings die naaste aan die betrokke gebiede en vir dit wat die boere nodig het om hul plase te herbou en te herstel (omheiningsmateriaal en veesuipings) asook vir die georganiseerde en billike herverdeling van die skenkings binne die betrokke gebied aan boere volgens die gedetailleerde impak en behoeftebepalings wat nog gedoen word.

Diegene wat donasies aan die rampfonds wil doen, kan die woord SKENK na 37846 SMS en sal dan teruggeskakel word.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za