Vrystaters weer blink in karate

0
616

Agt karateka van die Vrystaat Sportwetenskap Instituut (VSSI) in Bloemfontein was lede van die Suid-Afrikaanse karatespan wat op die Afrikakampioenskappe in Tunisië uitstekende vertonings gelewer het.
Die LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning in die Vrystaat, Dan Kgothule, het die Vrystaters gelukgewens met hul uithalervertoning. Die Vrystaters volg die Hoë Prestasie program van die VSSI, wat deur Kgothule se department bedryf word.
Behalwe die karateka is die hoofafrigter van die Suid-Afrikaanse span, Ian le Roux, ’n Vrystater. Nog ’n Vrystater, Nechodemus Banyane, was lid die Proteaspan se afrigtingspan.
Le Roux en vier karateka, Wim Boshoff, Elvis Tshaka, Danie Schutte and Kosie Kritzinger, was ook genooi om die afgelope naweek afriging van die driemalige wêreldkampioen, Haldun Alagas, in Istanboel te ontvang en aan die Istanboel ope kampioenskappe deel te neem.
Vrystaatse karateka het ook vroeër op die Afrika Sone Ses kampioenskappe in Namibië uitgeblink.
Die Vrystaatse karateka in die SA span het ses van die 15 medaljes in Tunisië verower. Die Proteaspan het een goud, een silwer en 13 bronsmedaljes verwerf.
Die Vrystaters in die Suid-Afrikaanse karatespan is: Wim Boshoff, Elvis Tshaka, Kosie Kritzinger, Adam John Boshoff, Diana Welmans, Danie Schutte, Luther van Zyl, Bridget Lourens.