Vrystaters op pad na die VSA

0
747
Kayleigh Kruger en Benette Frylinck.

’n Fondsinsameling ten bate van twee Protea Cheerleaders wat Suid-Afrika volgende jaar op die Internasionale Cheer Union (ICU) se Wêreldkampioenskappe in Orlando, Florida, gaan verteenwoordig, word by The Buffalo gehou. Gerhard Steyn sal die hoofrol speel by die vertoning wat op 5 November om 19:30 plaasvind.

Vertonings van Sexy Jeans, Groter as Goliath, en vele meer sal gaste deur die aand vermaak. Bloemfontein Courant het vroeër berig Kayleigh Kruger en Benette Frylinck moet elk R60 200 vir die reis insamel en dat hul ouers hard gewerk het om die fondse op hul eie in te samel aangesien daar nie veel ondersteuning is nie.

“Ek is baie opgewonde oor die Wêreldkampioenskappe in 2023, en ek kan nie wag om ‘n ander deel van die wêreld te sien en so ‘n wonderlike avontuur te beleef nie. Ondersteun ons asseblief, die kleinste skenkings kan ‘n groot verandering maak, dankie,” sê Kayleigh Kruger.

Bennette Frylinck sê sy is opgewonde om haar land op die wêreldverhoog te gaan verteenwoordig en om haar horisonne met hierdie geleentheid te verbreed.

“Ek is ook opgewonde om nuwe mense te ontmoet wat op hierdie hoë vlak gaan meeding. Ek hoop ook dat ons verder gaan en vir die Olimpiese Spele kwalifiseer. Ons wil hê die gemeenskap moet hierdie fondsinsameling ondersteun omdat dit ons kan help en die drome van twee Vrystaatse atlete kan bewaarheid. Ons is die enigste twee wat van die Vrystaat af kom, meeste van die ander is van Gauteng, so ons beoog om ons provinsie trots te maak. Daarom sal dit baie beteken as mense die fondsinsamelings kan ondersteun en ons ook kan help om die res van die geld in te samel.”

Kaartjies kos R150 per persoon en is beskikbaar by The Buffalo en aanlyn by Quicket

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za