Vrystaters oorheers SA pluimbaltoernooi

0
626

MANNY GOUNDEN

Vrystaters het die 63ste Suid-Afrikaanse ope pluimbalkampioenskappe en die tussen-provinsiale toernooi in die John Barrable-saal in Benoni oorheers en gewys dat hulle nie hul gelyke in die land het nie.

Die toernooie het saamgeval met die 75ste feesviering van Pluimbal Suid-Afrika en is deur Oos-Gauteng Pluimbalvereniging aangebied.
Pluimbalspelers van nege provinsies het meegeding in die individuele en span-kompetisies.

Aan die voorpunt van die Vrystaatse aanslag was die Dednam-broers, Chris en Roelof, wat weer in die mansdubbelspel gewys het dat hulle byna onstuitbaar is. Hulle het die paar van die Westelike Provinsie, Enrico en Dorian James, in die eindstryd 21-17, 19-21 and 21-19 geklop.

Die wedstryd het bewys dat die internasionale ervaring van die Dednam- en James-broers van onskatbare ware is en uithalerspel teen ’n blitsige pas is deur die twee pare gelewer.

Die eindstryd van die gemengde pare was ’n Vrystaatse kragmeting. Chris Denam en Susan le Grange is die nuwe nasionale kampioene nadat hulle ’n oortuigende oorwinning van 21-13 en 21-10 oor Andries Malan en Wilmarle Labuschagne behaal het.
Ook in die eindstryd om die nasionale enkelspetitels was Vrystaters betrokke. In die mansenkelspel het Prakash Nath van Suid-Gauteng met die titel weggestap deur die Kovsie, Andries Malan, 21-19 en 21-17 te klop.

In die vroue-enkelspel moes die Vrystater, Elme de Villiers, die knie teen die ervare Michelle Butler-Emmet van Noord-Gauteng buig. Die Noord-Gautenger moes hard werk om De Villiers in drie stelle 21-9, 18-21 en 21-11 te klop.

Nog ’n Vrystater, Annari Viljoen, het in die vroue-dubbelspel saam met Jennifer Fry van Noord-Gauteng die titel verower deur die gunstelingpaar, Butler-Emmet (NG) en De Villiers (VS), 21-16, 19-21 and 21-12 te klop.

In die spankompetisie het die Vrystaters hulle ook laat geld deur die A en C-afdeling te wen. In die B-afdeling het Grens geseëvier en Sedibeng is die kampioen in die D-afdeling.