Vrystaatse veterane-tennis-“familie” boer vooruit

0
1677
RUFUS BOTHA

Vrystaat se veteranetennisspelers het hul kleim afgesteek by ‘n tussenprovinsiale toernooi wat onlangs in Bethlehem beslis is. By dié vierhoekige toernooi het die Vrystaters kragte gemeet teen Mpumalanga, Noordwes en die sterk span van Sentraal-Gauteng. Nie minder nie as 224 spelers het koppe gestamp en elke provinsie het sewe spanne van agt spelers elk ingeskryf.

Die Vrystaatspan het sy krag in veterane-tennis behoorlik tentoongestel toe die span die negende keer wat die toernooi beslis is, in vyf van die sewe ouderdomsgroepe (afdelings) koning gekraai het. Die Vrystaatspan het in die afdeling vir spelers met ‘n gesamentlike ouderdomsgroep van 120 jaar ‘n yslike verrassing opgedis deur vir die eerste keer sedert die bestaan van die toernooi die span van Sentraal-Gauteng te klop.

Die provinsie se spelers in die gesamentlike ouderdomsgroepe van 160 jaar, 200 jaar en 240 jaar het ook oorwinnings gesmaak. Slegs in die 260 jaar- en 280 jaar-afdelings het die Vrystaat die onderspit gedelf. Wat die samestelling van die Vrystaatspan uniek maak is dat daar heelparty familielede die Vrystaat saam verteenwoordig het.

Johan Botha en sy seun Ruan is so ‘n voorbeeld. Johan is voorsitter van die Vrystaat-veteranetennis-vereniging en het verskeie kere Suid-Afrika verteenwoordig. Ruan is ‘n tennisafrigter van formaat. Dan is daar ook die Bethlemiet, Brian van der Hair, en sy seun, Dillan. Brian speel reeds verskeie jare vir die Vrystaat-veteranespan terwyl Dillan, ‘n mediese dokter, op sy tyd die Kovsies verteenwoordig het toe hulle die SA Universiteitetoernooi gewen het.

Izak Buys (Bloemfontein) en sy dogter, Elisca, speel ook saam vir die Vrystaat. Izak, wat verskeie jare die provinsie verteenwoordig het, is die stigterslid van die Bethlehem tussenprovinsiale toernooi en het voor dit ‘n soortgelyke toernooi 16 jaar gelede in Cradock begin. Elisca is ‘n onderwyser by die Hoër Meisieskool Oranje en ook die tennishoof van die skool.

Sy was onlangs die spanbestuurder van Oranje wat by ‘n wêreldtoernooi in Katar kragte gemeet het. Die ma-en-dogterkombinasie Esmé en Elsje Aucamp speel saam vir die Vrystaat. Esmé het ook reeds die land verteenwoordig terwyl Elsje betrokke is by die Kovsies.

Dan is daar nog die Trompsburg ma-, pa- en seun-familie, Isabel, Derick en Piet Louw, wat die Vrystaat verteenwoordig het. Isabel en Derick is jare lank betrokke by Trompsburg se tennisklub en Piet is ondervoorsitter van dié klub. Die ander ‘nie-familie’-lede van die span wat gedy het in Bethlehem is MC Olivier, Christine Kaizer en Estelle Marais.