Olga Rademan, legendariese pianis, orrelis en musiekonderwyser vir baie dekades in Kroonstad het op Sondag 30 Oktober op 90 jaar aan ‘n feesdiens in die NG kerk Vredefort deelgeneem.
Sy het Widor se Toccate aangedurf en haar spel was soos dié van ‘n jong virtuoos. Die diens was die viering van Erna Rademan, haar skoondogter-orrelis van dié gemeente se 30ste jaar as orrelis. Verskeie ander orreliste van so ver as die Kaap asook sangers en instrumentaliste was deel van hierdie besonderse feesdiens.
Olga, ‘n doyenne van musiekonderrig in die Vrystaat het gewys dat haar verstand en vingers nog dartelend en flink is en dat die wasdom van haar besonderse musikaliteit nog in volle blom is.
Die kort video-opname van haar waar sy in ‘n kerk sit en oefen vir haar uitvoering het die afgelope naweek op Facebook verskyn en bewondering van ander musici ontlok.
Een van hulle het geskryf: “As die Pools-Amerikaanse pianis Arthur Rubinstein sý slag met die klawers op 92 jaar tydens ‘n klavieruitvoering kon wys – die Vrystaatse Olga met haar passie en geesdrif op 90 staan geensins terug nie.”
Sondag het Olga Widor se musiek behoorlik “gekielie” terwyl haar hande van manuale verwissel en registers verander het en haar voete sekuur oor die pedaalnote gedans het.
Was dit dieselfde orrelis wat ‘n dominee jare gelede “in die pad gesteek het” omdat sy geweier het om haar kerkmusiekbeginsels prys te gee? Ja, dit was! Sy is iemand met sterk oortuigings en kan daarby staan soos die rots van Gibraltar.
Olga het onlangs van Kroonstad na Parys verhuis. Sy was met dr. Pieter Rademan getrou en die egpaar het hulle in 1952 in Kroonstad gevestig. Hier het sy haar veelsydige musiektalente uitgeleef. Dr. Pieter is in 2006 oorlede.
Op 87 jaar is Olga met ‘n Commendatio van die Kunstetrust vereer nadat sy die tuig as musiekonderwyser ná 70 jaar neergelê het. Sy het reeds as ‘n jong hoërskoolleerling aan die Meisieskool Oranje in Bloemfontein in musiek uitgeblink met haar veelsydigheid en het ná skool plaaslik sowel as oorsee ‘n rits musiekkwalifikasies verwerf. Haar curriculum vitae as presteerder in musiek is merkwaardig.
Musiekonderrig was egter lewenslank ‘n besonderse passie en die sukses van haar leerlinge se prestasies in nasionale eksamens was altyd van hoogstaande gehalte. Sy was dikwels beoordelaar by kunswedstryde en eksaminator vir Unisa-eksamens. Sy is ‘n lewenslange erelid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (SAVMO).
En wat sê sy self van haar uitvoering verlede Sondag?
“Ek het dit baie geniet. Ek is nog lank nie dood nie, hoor. Oudword is maar in die gene en my ouers se mense was nog springlewendig en aan die gang in hulle laat 90’s. Ek dink ek aard na hulle en gaan nie sommer gou my orrelboeke wegpak nie. Ek is wel lus om Kroonstad toe te ryloop omdat ek terugverlang en nog nie vrede het met my nuwe blyplek in Parys nie … So, as jy hoor van ‘n orrelis wat besig is om na Kroonstad te ryloop …”
Widor se Toccata uit sy Simfonie nr. 5 sal nooit weer dieselfde wees nie. Olga het dié virtuose en uitdagende stuk musiek na nuwe, eiesoortige hoogtes geneem. – Susan Maré