Vrystaatse muurbalspelers vertoon goed

0
509
RUFUS BOTHA

Die Vrystaatse muurbalspan het hom goed van sy taak gekwyt by die hoogs mededingende tussenprovinsiale Laser Jarvisbeker-byeenkoms wat 6 tot 10 Julie in Potchefstroom beslis is. Dié byeenkoms het meer as 200 bobaas- senior muurbalspelers gelok.

Verskeie van die spelers (Vrystaters inkluis) speel hulle muurbal in die buiteland, maar is by Suid-Afrikaanse provinsies geaffilieer. Suid-Afrikaanse muurbalprovinsies word toegelaat om twee spelers (een man en een vrou) van die buiteland in hulle spanne op te neem.

Dit het die mededinging ‘n grootse hupstoot gegee en nie minder nie as drie van die wêreld se top-20-spelers in die mansafdeling, Karim Abdel Gawad (Egipte, nommer 14), Steve Coppinger (SA, nommer 17) en Cameron Pilley (Australië, nommer 19) was in Potchefstroom in aksie.

Van die Vrystaat se vier manne (A-span) is dit slegs Paul Rodrigues wat in Bloemfontein geslyp word, terwyl Reinhold Hergeth (Stamford, Connecticut, VSA), Jacques Swanepoel (New York, VSA) en Lawrence Kuhn (Johannesburg) elders hulle kunsies beoefen. Die provinsie maak ook gebruik van Omar Abdel Meguid (Egipte) wat tans die 27ste plek op die wêreldranglys beklee.

Die Vrystaat, wat deur die jare gesukkel het om in die A-afdeling ‘n plek los te speel het die naweek met ‘n puik vierdeplek huiswaarts gekeer nadat hulle korte mette gemaak het van die Suid-Afrikaanse Platteland wat vyfde was én Grens wat met die sesde plek tevrede moes wees.

Die groot vraag voor die prestige-toernooi was of die Westelike Provinsie (WP) sy vierde agtereenvolgende oorwinning kon behaal, maar die span van KwaZulu-Natal (KZN het ander planne gehad. Dit was egter naelskraap en KZN is met 84 punte gekroon as kampioen, met WP tweede met slegs een punt kort (83) van die KZN-totaal.

Sentraal-Gauteng (70) wat derde was, het 12 punte meer as die Vrystaat versamel. SA Platteland (48) het tien punte minder as die Vrystaat opgestapel terwyl Grens die agterhoede gedek het met slegs 16 punte.