Vrystaatse legende keer terug na Bloemfontein

0
430
Karla Pretorius aan die beurt teen Uganda tydens die onlangse Netbal Wêreldbeker in Kaapstad. FOTO: NETBAL SA

Die Vrystaat- en Protea-netballegende, Karla Pretorius, is op pad terug Bloemfontein toe.
Dit kom nadat dié sterspeler amptelik aangekondig het dat sy nie volgende jaar na die Sunshine Coast Lighting in Australië sal terugkeer nie.

Pretorius, wat die onderkaptein van die Proteas was tydens die onlangse Netbal Wêreldbeker in Kaapstad, het sewe jaar by die Brisbane-gebaseerde span Doer Onder deurgebring.

Sy het aan Bloemfontein Courant gesê dat sy tot minstens die begin van volgende jaar vir die Proteas sal aanhou speel en dan sal sy weer haar opsies oorweeg.

“Ek het amptelik aangekondig dat ek nie na die Sunshine Coast Lighting sal terugkeer nie,” het Pretorius gesê. “Ek speel al sewe jaar daar en dit is ‘n groot deel van my netballoopbaan – een waarvoor ek opreg dankbaar is. Maar dit is tyd vir my om terug te keer na Suid-Afrika.

“Dit maak ‘n paar dinge moeiliker noudat ons ‘n gesin het, en ek moet die gesin eerste stel. Ons het besluit ek gaan in Bloemfontein bly.

“Ek het vrede in my hart dat dit die regte besluit is en ek sien uit na wat ook al hierdie volgende hoofstuk inhou.

“Ek gaan nog vir die Proteas speel. Daar is ‘n komende toets in Australië, dan het ons ‘n toetsreeks in Engeland in Desember, en dan in Januarie is daar nog ‘n reeks. My doel is om in daardie reekse te speel en dan sal ek net alles herevalueer en besluit oor wat volgende kom.”

Pretorius het voorheen ook die Universiteit van die Vrystaat Kovsies, die Vrystaatse Crinums en Bath in Engeland verteenwoordig. In 2019 is sy aangewys as die Speler van die Toernooi by die Netbal Wêreldbeker in Liverpool. – MORGAN PIEK