Vrystaatse gestremdes skitter

0
664

GEORG VAN ECK

Die Vrystaatse Sportvereniging vir Liggaamlik- en Gesiggestremdes het op sy jaarlikse prysuitdeling sportlui, deelnemers, afrigters en beamptes vereer wat op internasionale, nasionale en plaaslike vlak presteer het. Die voorsitter van die vereniging, Jan Wahl, het ook op die spoggeleentheid by Bain’s Game Lodge in Bloemfontein talle borge en persone bedank en met verdienstelikheidstoekennings vereer. Bekendes soos Johannes de Jager, oud-rugbyspeler en kwadrupleeg, die Vrystaatse en Shimla-rugbyspeler, Oupa Mohole en Freddie Ngoza, het van die toekennings oorhandig.

Die toekennings illustreer duidelik die sukses wat die vereniging op talle vlakke behaal het. Die Vrystaat en Suid-Afrika kan trots wees op hierdie sportlui wat in baie gevalle nasionale titels en A-kwalifiserende tye en afstande vir die Wêreldkampioenskap in September vanjaar behaal het. Thobo Mokgalagadi, gestremde atleet van Martie du Plessis, wat in die T35-klas ’n silwermedalje op die Paralimpiese Spele verower het en daarna twee goue medaljes in die 100 en 200 op die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Pretoria verwerf het, is as die vereniging se Sportster van die Jaar bekroon.
 
Mokgalagadi het ook ’n A-kwalifiserende tyd vir die Wêreldkampioenskap opgestel en is saam met Protea-rolstoelbasketspeler, Kyle Louw, as Internasionale Ster van die vereniging benoem. Die toekenning as Senior Mansportster is gedeel deur Anton Swanepoel en Jacques de Bruyn, albei van Martie du Plessis.  Swanepoel is ingesluit in die SA para-triathlonspan vir die Wêreldkampioenskap nadat hy goue medaljes op die nasionale kampioenskap in para-triathlon en senior para-fietsry verwerf het. De Bruyn het in die naellope op die SA kampioenskap twee goue medaljes in die 100 en 200 in die T13-klas gewen. Hy het ook ’n A-kwalifiserende tyd vir die Wêreldkampioenskap opgestel.

Louzanne Coetzee is die vereniging se Senior Vrouesportster. Coetzee het saam met haar gids, Rouxne Vermaak, op die Nasionale kampioenskap goue medaljes in die 800, 1 500 en 5 000 in die T11-klas verower. Sy het ook ’n A-kwalifiserende tyd vir die Wêreldbyeenkoms in die 5 000 opgestel.

Die ander toekennings is:
Sportsoort van die Jaar: Fietsry en atletiek. Junior sportsterre: Juan Odendaal (seuns) en Juanelie Meijer (meisies) albei van Martie du Plessis. Voorsittertoekenning: Diederich Kleynhans (atletiek, Martie du Plessis). Administrateur van die Jaar: Rudi Kuhn van die vereniging se sportspan. Afrigter van die Jaar: Dup du Plessis (atletiek). Internasionale Beampte van die Jaar: Ernesta Strydom van Martie du Plessis-skool – internasionale atletiekbeampte op Paralimpiese Spele in Londen en ook later vanjaar na Praag in die Tsjeggiese Republiek. Verdienstelikheidstoekennings: Gert en Anna Strydom, Piet du Plessis en AM Marketing. Mees gewaardeerde bydrae: Eric Kalobo, atletiek van die Bartimea-skool. georg@centralmediagroup.co.za