Vrystaatse gestremde sportlui vereer

0
749
RUFUS BOTHA

Die Vrystaat-sportvereniging vir fisieke en visueel gestremdes (FSSAPD) het Saterdag sy voorste sportlui (2014) by ‘n luisterryke geleentheid by die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein vereer.

Vertonings van 1 Junie 2013 tot 30 Junie 2013 is in aanmerking geneem. Die nominasies vir die onderskeie kategoriewenners was van hoogstaande gehalte en die FSSAPD moes vir seker kopkrap om sy wenners aan te wys.

Julius Lesenyeho(T-44, onderbeen-amputasie) is aangewys as die Sportster van die Jaar. Hierdie veelsydige en boonop puik middelafstandatleet het twee goue medaljes (800 m en vyfkamp) gewen by die Suid-Afrikaanse kampioenskap. Hy het in die proses die Afrikarekord in die 800 m oortref en is tans die tweede beste atleet in sy gestremdheidkategorie in die einste 800 m in die wêreld.

Die hoogstaande gehalte van FSSAPD-atlete is onderstreep toe daar nie onderskeid kon getref word om die wenner van die Senior sportvrou van die Jaar te bepaal nie.

Juanelie Meijer, skitterende naeloper en verspringer van die Rosestad, het dié toekenning gedeel met die Bloemfonteinse blinde middel- en langafstandsensasie, Louzanne Coetzee en haar gids, Rouxné Jacobs.

Meijer het by die wêreldkampioenskap (Lyon, Frankryk) vierde in die halfeindronde van die 100 m, sesde in die eindronde van die 200 m en tiende in die verspring (SA rekord) in haar kategorie (T38) geëindig. Sy het vroeër vanjaar by die nasionale kampioenskap in Stellenbosch in die einste nommers drie goue medaljes (én almal in Suid-Afrikaanse rekords) huis toe gebring.

Tans is Meijer onderskeidelik agtste (100 m), negende (200 m) en sesde op die ranglys van beste vertonings in die genoemde nommers in die wêreld. Sy het Sondag vir Suid-Afrika aangetree in die verspring in haar kategorie by die Statebondspele in Glasgow. Sy was vyfde en het haar eie nasionale rekord geëwenaar (4,06 m).
Coetzee en Jacobs het in die einste Lyon die land in die 800 m (T-11-kategorie) verteenwoordig en hoewel hulle nie die eindronde gehaal het nie, het hulle die Suid-Afrikaanse rekord verbeter.

By die Stellenbosch-kampioenskap het hulle die nasionale rekords met oorwinnings in die 800 m, 1500 m en 5000 m agter hulle naam geskryf. Coetzee is tans die wêreld se voorste atleet in die wêreld in die 5000 m. Sy beklee vanjaar ook onderskeidelik die wêreld se derde en sesde beste plekke in die 1500 m en 800 m.

Thabiso Galeboe is aangewys as die senior sportman van die jaar. Hierdie vriendelike vegter was die kaptein (doelwagter) van die Vrystaat-sokkerspan vir spelers met gestremdhede en het hulle gelei tot die bronsmedaljeplek by die nasionale kampioenskap. Hy het ook die silwermedalje gewen by die CPISRA-kontinentalebeker-toernooi in Spanje.

info@bloemfonteincourant.co.za