Dit kom nadat die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein Vrydagmiddag tussentydse verlof toegestaan het dat dié abattoir voort kan gaan met dié proses. Eskom het Vrydag, ná lang onderhandelinge, aangekondig ‘n betalingsooreenkoms is nie bereik nie en 14-uur onderbrekings sou daagliks Saterdag in Boshof, Dealesville, Hertzogville en Seretse begin het.
Eskom het egter kort na dié aankondiging in ‘n verklaring gesê die 14-uur onderbrekings is op die ingewing van die oomblik deur die munisipaliteit vermy met ‘n betalingsooreenkoms wat bereik is. Dave van Zyl van Claude Reid-prokureurs in Bloemfontein sê intussen is die hof Vrydag genader om ‘n bevel te kry dat dié abattoir van die Tokologo-munisipaliteit se elektrisiteitswerk uitgesluit kan word.
Die Tokologo-munisipaliteit skuld Eskom meer as R36 miljoen en onderbrekings twee keer daagliks is vanjaar op 21 Februarie ingestel nadat die munisipaliteit nie sy betalingsooreenkoms nagekom het nie.
Van Zyl sê dié kragonderbrekings het die abattoir, wat ‘n groot verspreider van vleis in dié gebied is, se daaglikse produksie belemmer en sou 14-uur beplande onderbrekings ingestel word, sou dit die situasie vererger het. Volgens hom is die aansoekproses by Eskom ‘n lang proses en goedkeuring is nie gegewe nie, maar ten minste is die proses aan die gang.
CHRISTAL-LIZE MULLER / OFM-nuus