Vrystaat skole geneig tot misdaad en geweld bekend

0
649
Minister of Basic Education Angie Motshekga. Picture: Jacques Naude / African News Agency (ANA)
Altesaam 90 skole in die Vrystaat is geïdentifiseer as hoë risiko sones vir misdade en geweld. Dit, terwyl Noordwes op 80 staan, en die Noord-Kaap op 40 skole.

Dit is bekend gemaak deur die minister van basiese onderwys, Angelina Motshekga, in antwoord op ‘n vraag deur Demokratiese Alliansie parlementslid Chantal King.

Dit het aan die lig gekom dat daar in totaal 2 345 sulke skole regoor Suid-Afrika is wat in die boekjaar 2018/19 geïdentifiseer is.

King het ook gevra of daar ingrypings in plek is om geweld en misdaad by hierdie betrokke skole te bekamp, waarna Motshekga geantwoord het dat daar ‘n nasionale skoolveiligheidsraamwerk (NSSF) is wat onder andere staatmaak op vennootskap en samewerking.

Motshekga het bygevoeg dat die departement onder meer seminare in al die onderwysdistrikte in Noordwes gehou het, wat in vennootskap met die Quality Learning and Teaching Campaign (QLTC) in die kantoor van die Premier geskied het.

‘n Ander strategie wat gebruik word om die probleem te bekamp is om in samewerking met die SAPD lukrake soektogte uit te voer om van gevaarlike wapens op skoolterreine ontslae te raak.

Die minister het ook gesê dat opleiding aangebied word sodat veiligheidskomitees vir skole in staat is om te reageer op enige uitdagings.

Die provinsie met die meeste skole wat geneig is tot misdaad en geweld is Mpumalanga, met 414 geïdentifiseerde skole. Limpopo het die laagste getal van slegs 22.

 

OFM-nuus/Elsabé Richard