Vrystaat Skermklub-juniors ryg medaljes in

0
2397
Vrystaat Skerm-medaljewenners is: Alida van der Merwe, Ruan Coetzee-Schröder, Danielle Ceronio, Kiara Schröder, Mone de Jager, Anzel Schröder en Liam van Zuydam. Agter: afrigter, Gunter Schröder.

Die Vrystaat Skermklub se junior skermers het die afgelope naweek tydens die Suid-Afrikaanse Junior Skerm-spele in Kaapstad hul slag gewys toe hulle met ‘n string medaljes beloon is. Skerm is ‘n relatief onbekende sportsoort in die Vrystaat, maar waarvoor gespesialiseerde vaardighede benodig word. Die Vrystaat-skermers het besonder goed gevaar by die nasionale kompetisie.
Die beste skermers van alle provinsies het teen mekaar meegeding om te bepaal wie die beste in Suid-Afrika is vir 2016.
Ná ‘n suskesvolle naweek het die Vrystaat met nege medaljes huis toe gekom.
Die afrigter, Gunter Schröder, is ongelooflik trots op sy junior span, meeste van wie vir die eerste keer aan ‘n kompetisie op nasionale vlak deelgeneem het. Ruan Coetzee-Schröder en Mone de Jager, albei leerlinge aan Hoërskool Sentraal, was die enigste ervare skermers in die span. Hulle is deel van die nasionale span wat aan die Junior Statebondspele deelgeneem het in 2016.
Hierdie resultate beklemtoon dat die Vrystaat tans een van die sterkste skermgroepe in Suid-Afrika het en dat ons nog baie van hierdie skermers gaan hoor in die toekoms.
Die medaljewenners is Alida van der Merwe (Eunice-laerskool – brons), Ruan Coetzee-Schröder (Sentraal Hoërskool – brons), Danielle Ceronio (Eduplus Onafhanklike Skool – brons en goud), Kiara Schröder (Tjokkies – 2 brons), Mone de Jager (Sentraal Hoërskool – goud), Anzel Schröder (Tjokkies – silwer) en Liam van Zuydam (Eduplus – brons).