Vrystaat Simfonieorkes steeds in gesonde posisie

0
3295
MARINÉ JACOBS

Die Vrystaat Simfonieorkes is steeds in ‘n gesonde geldelike posisie ten spyte van ‘n uitdagende finansiële jaar wat voorlê. So sê bestuurder van die orkes, Piet Moolman.

Moolman sê dat ongeveer dieselfde hoeveelheid konserte vir 2013 beplan word, alhoewel dit waarskynlik kleiner konserte sal wees. “Baie orkeste is nogal afhanklik van die Lotto vir fondse en hulle het nog nie weer ‘n advertensie uitgesit dat ons kan aansoek doen nie,” sê Moolman. Hy beklemtoon egter dat die orkes geen skuld het nie.

Die Johannesburgse Philharmoniese Orkes het onlangs aangekondig dat hulle noodgedwonge alle konserte tydelik moet staak om die orkes van bankrotskap te red. Volgens Moolman voorsien hy egter glad nie dat dieselfde met die VSSO sal gebeur nie. “Die verskil is dat ons spelers nie ‘n salaris kry nie, maar net ad hoc betaal word. So ons sal nie ‘n konsert aanbied as ons nie weet dat die geld daar is nie.”

Moolman sê die ondersteuning van die orkes bly egter steeds baie goed. Byna al die konserte was hierdie jaar uitverkoop, met die laaste konsert die afgelope naweek wat ‘n vol Sand du Plessis teater gelok het. “Die geld ontbreek helaas,” sê Moolman. “Oor die algemeen vind ek van regeringskant af is die ondersteuning maar min.”

Indien enige persoon graag by die VSSO wil betrokke raak as ‘n Vriend van die Orkes, kan hulle vir Moolman skakel op 083 447 1047.