E Copy

Date:

Vrystaat-pluimbal vereer bestes

RUFUS BOTHA 

Vrystaat Pluimbal (VSP) het Saterdag verskeie eerbewyse aan van sy beste spelers in verskeie kategorieë toegeken. Die aanbieding (prestasies) wat die voorsitter van VSP, Francois Smith, op die prysuitdeling gedoen het, onderstreep VSP se landwye oorheersing in dié sport. 

VSP, wat die afgelope klompie jare die krag van Suid-Afrikaanse pluimbal is, het sy beste vertoning ooit in 2015 gelewer. Dit is, om die Engelse sportterm te gebruik, 'n "full house" van titels op die SA Ope kampioenskap. 

VSP het SA titels in al die afdelings agter sy naam geskryf. Dit beteken die provinsie se spelers het koning gekraai in die mans- en vroue-enkelspel, mans- en vroue-dubbelspel, gemengde dubbelspel én die spankompetisie – ses nasionale ope titels. Boonop het VSP die spankompetisie die vierde jaar agtereenvolgens gewen.

Smith het ander VSP-hoogtepunte (2015) in sy aanbieding uitgelig: onder meer Eunice wat goud verower het op die Afrika-skolekampioenskap in Mauritius. Dan was daar die vuurvreter, Elmé de Villiers, wat die vyfde beste vrouespeler in Afrika is.

Voeg daarby dat die voormalige Olimpiese Spele- pluimbalspeler, Chris Dednam (VSP), vanjaar aangestel is as Pluimbal SA (PSA) se hoofafrigter – dit opsigself is 'n groot pluimpie vir VSP. 

Nie minder nie as vier spelers van VSP het vanjaar die reënboognasie op senior vlak verteenwoordig. Wiaan Viljoen, Andries Malan, Elmé de Villiers en Sandra le Grange het SA verteenwoordig op die wêreldklas- Sudirman-toernooi in China. 

Met dié vier Bloemfonteiners in die SA span het die land silwer gebuit op vanjaar se Afrika-kampioenskap. Viljoen en Malan is gekroon as die vasteland se dubbelspelkampioene, terwyl Malan 'n tweede goud gewen het in die gemengde dubbelspel. Viljoen en Malan het SA ook vanjaar verteenwoordig op die wêreldkampioenskapbyeenkoms. 
Johan Kleingeld, 'n legende in pluimbal in SA en VSP, het op sy beurt die provinsie se vlag hoog laat wapper toe hy op die Wêreld-oorplantingspele goud in die enkelspel gewen het. Hy het die wêreldtitel op die einste spele in muurbal óók gewen. 

Hoewel daar verskeie eerbewyse vir indrukwekkende 2015-prestasies toegeken is, is die meriete-toekenning wat Nita Scholtz ontvang het, iets om oor huis toe te skryf. Sy het onder meer vanjaar VSP verteenwoordig in die o.17-, o.19- én senior afdelings en het 'n goue driekuns op die SA o.17- Ope kampioenskap behaal. 

Scholtz maak dit nóg 'n goue driekuns – dié keer op die SA o.19- Geslote-kampioenskap en wys haar staal teen die seniors op die SA Senior Ope kampioenskap deur silwer in die vroue- enkelspel in te oes en voeg brons by in die dubbelspel. 

Sy was boonop die anker vir Eunice wat bogenoemde Afrika-skolekampioenskap gewen het en het SA verteenwoordig op die Wêreld-juniorkampioenskap in Peru – en dit alles in 2015. Wat 'n mens opgewonde maak is, dat dié opkomende ster slegs 15 jaar oud is. 

Share post:

Popular

More like this
Related

Storie van Annie en Helen by Vryfees lewe gegee

Die verhaal van Annie Sullivan en Helen Keller het...

Pencil in – 10 July/10 Julie 2025

11 July: Wine lovers can join the Jordan Wine...

Bloemfontein Schools Update / Skolenuus – 10 July/10 Julie 2025

Martie du Plessisskool: Rugby Jandré Opperman, van Martie du Plessisskool,...

‘Rainbow Business’ makes financial literacy fun for kids

Nontsikelelo Phume, a six-year-old Grade 1 learner at St....