Vrystaat netbal verloor ’n ster

0
852
Bianca de Wee FOTO: ASEM ENGAGE

Netbal in die Vrystaat is vroeg in die jaar deur ’n geweldige terugslag getref met die nuus dat die ster van die Universiteit van die Vrystaat Kovsies en die Crinums, Bianca de Wee, haar uittrede uit die sport aangekondig het.

De Wee het oor die afgelope paar jaar daar stem dik gemaak vir albei spanne en sy was sonder twyfel ’n groot staatmaker.

Dié speler wat van Paarl in die Kaap afkomstig is, het aangedui dat sy nou wil fokus op haar loopbaan as ‘n graad een onderwyseres en haar geestesgesondheid.

“Ek het besluit om vir nou op te hou om netbal te speel,” het De Wee gesê.

“Ek vat nou ‘n tree terug om te fokus op my geestesgesondheid en soek mediese behandeling vir my lyf. Dit is ook ‘n geleentheid om myself as ‘n mens te vind buite die sport. Ek wil die skool waar ek werk, dien — ook die gemeenskap by die huis in Paarl, asook hier in Bloemfontein.

“Daar is nie ‘n dag waar ek nie dankbaar is vir die geleentheid wat dié sport vir my gegee het nie. Ek is dankbaar vir al die ondersteuning tydens my netbalreis tot dusver. Ek is dankbaar vir al die spanmaats, afrigters, vriende en die rolmodelle wat ek teëgekom het.”

Geestesgesondheid in sport het in onlangse tye baie aandag gekry weens die geweldige druk en die negatiewe impak daarvan op internasionale tennis- en krieketsterre, soos Naomi Osaka, Emma Radecanu en Ben Stokes. De Wee het sonder twyfel haar kant gebring op die netbalbaan en sy kan trots wees op die rol wat sy in die Vrystaat gespeel het en hoe sy deur jonger spelers as ’n rolmodel beskou word. – MORGAN PIEK