Oor die naweek van 14 en 15 Oktober het die Vrystaat Nasorgsentrum vir hul inwoners, Jean Webber Huis, en ander persone met gestremdhede verwelkom vir ’n skubaduik-werksessie, aangebied deur Handicapped Scuba Crew van Pretoria. Dit is ’n groep skubaduikers wat werksessies vir gestremde duikers in hul vrye tyd aanbied.
Francois Prinsloo, Hoof van die Vrystaat Nasorgsentrum, het gesê “die inwoners het die geleentheid gekry om ’n nuwe vaardigheid aan te leer”.
“Hulle is uitgedaag om hul eie fisiese en intellektuele beperkinge te konfronteer en te oorkom.”
Die Sentrum is vir baie van die 123 inwoners hul werk- en blyplek. “Hulle kry bitter min kans om met die buitewêreld interaksie te hê,” het Prinsloo verduidelik. “’n geleentheid soos hierdie wys vir hulle daar is mense wat hulle raaksien en vir hulle welstand omgee”.
Prinsloo het ook vertel dat die werksessie ’n geweldige positiewe invloed op die selfbeeld en emosionele welstand van die Vrystaat Nasorgsentrum se inwoners gehad het.
“Hierdie was ’n eerste vir die Nasorgsentrum, maar ons gaan dit beslis meer wil doen,” het Prinsloo gesê. Die instrukteurs is almal vrywilligers van Gauteng wat die aanbied op ’n meer gereelde basis moeilik maak, maar die sentrum beplan reeds soortgelyke werksessies vir volgende jaar.
Meer as 40 mense het oor die twee dae deelgeneem, wat besoekers van buite ook insluit. Inwoners van die Jean Webber tehuis, asook ander fisiese gestremde persone, het deelgeneem. Om sy ondersteuning vir die Vrystaat Nasorgsentrum te wys, het Suid-Afrikaanse musieklegende, Mathys Roets – wat self gestremd is – asook rugbyspelers, Rynier Bernardo, Jean Droste en Louis van der Westhuizen, ook ’n draai oor die naweek gemaak.
Warren Hawkins