Vrystaat muurbal het vanjaar ‘n blomjaar beleef

0
971
RUFUS BOTHA

As daar een sportsoort se bestuur in die Vrystaat is wat uit hulle pad uit gaan om die sport in so ‘n mate bedryf dat dit voorsiening maak vir wêreldklas spelers én behoorlike ontwikkeling doen onder beginners, dan is dit die grootkoppe van Muurbal Vrystaat.

Muurbal word regdeur die jaar gespeel en ‘n hoogs kompeterende winter- en somerliga word gesamentlik vir bykans twaalf maande van die jaar aangebied. Dan is daar nog ander gesogte toernooie wat gereeld beslis word en volgens Viktor Hergeth, voorsitter van Vrystaat Muurbal is dit (as gevolg van die bogenoemde) die “grootste sport” in die provinsie.

Die Vrystaat junior ope toernooi is ‘n puik voorbeeld hiervan en is jaar na jaar die grootste junior-muurbaltoernooi in die land.

Die groei in die gehalte van muurbal in die Vrystaat is vanjaar bewys toe die provinsie vroeër vanjaar vir die eerste keer in die geskiedenis twee afdelings by die Suid-Afrikaanse kampioenskap gewen het.

Twee individue wat die Vrystaat vanjaar met skitterende prestasies op en van die baan af verteenwoordig het, is Calvin Deutchman en die juniorspeler, Lawrence Kuhn.

Deutchman, die amptelike afrigter van Vrystaat Muurbal is vanjaar aangewys as die afrigter van die Suid-Afrikaanse span wat aan die wêreldkampioenskap in Namibië deelgeneem het en Kuhn was ook in dié span. Deutchman het voorheen die kroon gedra as Suid-Afrika se afrigter van die jaar.

Hy rig egter nie net af nie, hy is baie aktief in wedstryde en dit bly in die familie. Sy broer, Tremayne se titaniese stryd teen die einste Kuhn by die geslote Vrystaatkampioenskap sal lank onthou word. Tremayne was op pad om ‘n goue driekuns in dié toernooi te voltooi nadat hy in 2012 en 2013 die kitaar geslaan het.

Die 18-jarige Kuhn het egter ‘n stokkie daarvoor gesteek en Tremayne in ‘n vyf-stel-riller getroef.

Kuhn was waarskynlik die Vrystaat se beste speler van die jaar. Hy was die land se eerste gekeurde speler by die wêreld-juniorkampioenskap.

Hy was ook een van die Vrystaatse Sportmedia se junior-uitverkorenes wat met ‘n spog-eerbewys deur dié vereniging vereer is vir sy puik prestasies in 2014. Hy het ‘n skitterende jaar op plaaslike vlak en het onder meer die Durban én Johannesburg byeenkomste van die Suid-Afrikaanse onder-23 reeks gewen (onthou, hy is slegs 18-jaar).

Kuhn het by die wêreldbyeenkoms die top-16 gehaal en dit in ‘n sportsoort wat wêreldwyd hoogs kompeterend is.

Courant het so bietjie gaan naslaan en tydens ‘n opname wat so lank gelede as 2009 van stapel gestuur is, was daar nie minder nie as 188 lande in die wêreld wat muurbal as sportsoort beoefen en daar is 49 908 muurbalbane op moederaarde.