Vrystaat Lewensredding toon staal op SA

0
1733

GEORG VAN ECK

Die Vrystaatse Lewensreddingspan het weer uitstekend gevaar op die Suid-Afrikaanse Lewensredding-kampioenskappe wat by die Strand en die Theewaterskloof-dam in die Kaap plaasgevind het. Die Vrystaters het onder leiding van hul kapteine, Tinus Krugel en Stefani Boshoff, bykans 100 medaljes verower. Dit sluit 29 goue, 28 silwer- en 36 bronsmedaljes in.

Van die Vrysaters wat in hul ouderdomsgroep uitgeblink het, is: Chloe le Roux (Victrix Ludorum), Ferdinand Vergottini (Victor Ludorum) en Robbie le Roux (Victor Ludorum).  Vrystaters wat tussen hulle agt nasionale rekords verbeter het, is: Chloe le Roux, Guilma Lausberg, Ferdinand Vergottini, Robbie le Roux, Wesley Schutte, Culien van der Merwe en Adriaan Crous.

Vrystaters onder die top-drie lewensredders in Suid-Afrika in hul ouderdomsgroepe se ranglys, is: Chloe le Roux (1), Francois du Plessis (3), Guilma Lausberg (2), Robbie le Roux (1), Burger Marais (3), Stephen Pretorius (3), Alex-Jade Marshoff (3), Wesley Schutte (3), Ferdinand Vergottini (1), Culien van der Merwe (2), Gean Viljoen (3) en Chantel Smith (3).
Swemmers van verskeie skole in Bloemfontein en Kroonstad, Meisieskool Oranje, Hoërskool Sentraal, Laerskool Willem Postma, Grey Kollege, Afrikaanse Hoërskool en Hoërskool Kroonstad, Sentrale Volkskool en die laerskole Kroonheuwel en Kroonstad was lede van die Vrystaatse span.