Vrystaat Landbou veroordeel jongste plaasmoord

0
1327

Vrystaat Landbou (VL) het sy innige simpatie uitgespreek met die familie van Mark Regal, ‘n boer van die plaas Thelma in die Odensdaalsrus-omgewing, wat op 11 November 2020 op sy plaas doodgeskiet is.

“Dit is onaanvaarbaar. Die landbougemeenskap, maar ook die hele land, is keelvol vir die misdaadaanvalle op onskuldige mense,” sê Francois Wilken, president van VL.

Regal is Woensdag omstreeks 19:40 op sy plaas noodlottig gewond. Een aanvaller is op die toneel dood en die polisie vermoed ‘n ander aanvaller het te voet gevlug.

Rudi van Vuuren, veiligheidskoördineerder van VL, het bevestig dat die SAPD vinnig op die voorval gereageer het en dat die polisie vinnig op die toneel was.

Dit terwyl die boeregemeenskap in Hennenman steeds geskok is na die onlangse aanval op Pieter Hills en sy seun, Eddie. Pieter is noodlottig geskiet, terwyl Eddie ernstig beseer is tydens die plaasaanval, en later aan sy beserings beswyk het.

Die VL sal op Maandag 16 November 2020 ‘n vreedsame protesaksie in Hennenman hou in oorleg met die Hennenman-boerevereniging tydens die borgtogaansoek van Hills se vermeende aanvallers.

“Die VL wil toesien dat vermeende misdadigers wat weens plaasaanvalle en -moorde in hegtenis geneem word, glad nie borgtog ontvang nie,” het Wilken gesê.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za