Mense van oor die land heen stroom na Bloemfontein sedert die gewilde fees Maandag op die Universiteit van die Vrystaat se kampus in die stad begin het.
Feesgangers het gister aan Bloemfontein Courant gesê hulle geniet elke oomblik. Dit is Marianna Van der Berg van Senekal se eerste keer by die fees. Die stalletjies is vir haar sover ‘n hoogtepunt. Dit is vir haar ‘n heerlike ervaring. Sy sê die stalletjies bied ‘n groot verskeidenheid.
Cornelis Swart van Bloemfontein is ook in sy skik met die fees. Hy sê die fees is goed georganiseer. Daar is baie jongmense wat dit bywoon. Dit is die eerste keer dat hy die fees bywoon.
Feesdirekteur, Ricardo Peach, sê kaartjieverkope vir produksies vorder goed teenoor verlede jaar se verkope.
Organiseerders is verstom dat kaartjieverkope nou 20% meer is teenoor die verkope van kaartjies dieselfde tyd verlede jaar. Hy sê die verkope van parkeerkaartjies op die feesterrein is ook 30% meer teenoor verlede jaar se verkope. Dit is ‘n duidelike aanduiding dat mense na die fees stroom. Hy sê aangename weerstoestande speel ook ‘n rol.
Die bekende groot produksies vaar goed op die fees.
Produksies soos Hond se Gedagte met Louw Venter, Sandra Prinsloo en Neels van Jaarsveld is uitverkoop. Peach sê ‘n ekstra vertoning van die produksie, wat gaan oor ‘n vrou wat ná ‘n lang gelukkige huwelik in haar man se getrouheid twyfel, vind Sondag plaas, sodat mense die geleentheid kan kry om dit te sien. Ander produksies wat uitverkoop is, is Ooms met Tobie Cronjé en Gerben Kamper asook Marion Holm vir beginners.
Die fees duur tot Saterdag. – Christal-Lize Muller