Vrystaat Kunstefees keer terug

0
514
Mark Anthony Dobson

Dit is geen geheim dat Bloemfonteiners uitgehonger is vir goeie vermaak en saamkuier nie. Die Rosestad het in die verlede verskeie feeste en kleiner markte gehou, maar die vraag op almal se lippe is: “Gaan die Vrystaat Kunstefees ook vanjaar terugkeer?”.

Volgens Mark Anthony Dobson, die fees se bemarkings- en ontwikkelaarsbestuurder, kan die Kunstefeesspan uiteindelik na twee jaar weer saam in een kantoor sit en op die gewilde fees fokus.

Dinge werk vanjaar wel bietjie anders alhoewel daar ‘n propvol program voorlê. Die Public Art Project het reeds by Hoffmanplein afgeskop, en sal vanaf 25 tot 31 Mei by Prellerplein plaasvind. Van 12 tot 16 Julie sal daar ‘n Wintersmark op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat plaasvind. Dit sal ‘n intieme mark met eg Suid-Afrikaanse produkte wees. Daar sal ook verskeie produksies aangebied word.

Die hooffees sal vanjaar van 2 tot 8 Oktober plaasvind met die bekende Literêre Fees, Vrynge, die Blêrkas en kosstalletjies.

In November sal Vrystaat Klank en Klassik plaasvind. Dit is ‘n nuwe initiatief wat geskep is om die klem op klassieke musiek en klankkuns te plaas.

Inwoners van Bloemfontein en besoekers aan die stad kan dus begin uitsien na die Kunstefees want die fees is vanjaar beslis terug.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za