Vrystaat Kunstefees bring die wêreld na Bfn

0
4261

Die Vrystaat Kunstefees 2017, wat Vrydagaand tydens ‘n galageleentheid by Naln in Bloemfontein bekendgestel is, gaan vanjaar behoorlik internasionaal.
Volgens Roxanne Konco, bemarkingsbestuurder van die fees, smee die fees steeds nuwe kreatiewe bande tussen plaaslike, nasionale en internasionale kunspraktisyns.
“Vanjaar het ons medewerkers, skrywers en medevervaardigers van so ver as Argentinië, Australië, België, Kanada, Iran, Italië, Nederland, Nigerië, Roemenië, Brittanje en Amerika.
“Die eerste keer het ons ook kunstenaars van ons buurlande – Botswana, Lesotho, Namibië, Zambië en Zimbabwe – as deel van die Pan-African Creative Exchange (Pace). Die idee is dat Pace ‘n tweejaarlikse kunsmark vir interdissiplinêre kuns in Afrika moet word.
Hoewel daar kunstenaars van oor die wêreld heen op die Rosestad gaan toesak, gaan die plaaslike element nie agterweë bly nie.
“Ons is bevoorreg om verskeie eerstenasie-aktiviste te hê wat gaan help om protokol vir die fees te ontwikkel wat met die hedendaagse Khoisan-kultuur skakel. Van die eerstenasie-werk sal plaasvind rondom Giidanyba (Lugwesens) by Oliewenhuis, geskep deur Tyrone Sheather, ‘n jong Gumbaynggirr-kunstenaar van die noordkus van Nieu-Suid-Wallis.
In 2017 bied die fees ook Suid-Afrika se eerste Kuns-en-Gesondheid-program in vennootskap met DADAA (Disability in the Arts, Disadvantage in the Arts) in Wes-Australië en die Universiteit van die Vrystaat (UV) aan. Dié grensverskuiwer vir gemeenskapskuns en kulturele ontwikkeling, asook gesondheid, gaan oor die volgende paar jaar ‘n belangrike invloed op ons land hê.
Die Vrystaat Literatuurfees het in een jaar as ‘n juweel vir skrywers in Suid-Afrika ontluik. In 2017 word die aanbod uitgebrei met ongelooflike kleurryke skeppendes van die uithoeke van die wêreld.
Die Vrynge, wat vanjaar ‘n tweede keer aangebied word, is reeds ‘n noodsaaklike platform waar almal – van nuwelinge tot gesoute kunstenaars (nasionaal en internasionaal) – hul kreatiewe talent kan ontdek en ten toon stel.
Van drama tot komedie, boeke tot klassieke musiek, boeremusiek en jazz, interaktiewe mediakuns tot gemeenskapsbetrokkenheid, fynproewerkos, handwerk en lewende kuns – 2017 se feesaanbod troef alle voriges in Suid-Afrika. Maak seker jy loop nie een van die programme mis nie.
Kaartjieverkope het reeds op Vrydag 5 Mei by Computicket en Shoprite/Checkers landwyd geopen.
Die volledige Vrystaat Kunstefees 2017-program kan hier afgelaai word: http://bit.ly/VSKunstefees2017
Vir meer inligting, kontak Konco 051-404-7947 of stuur ‘n e-pos aan haar by: roxanne.konco@volksblad.com.