Vrystaat Krieket kry ‘n nuwe borg

0
168

Die Vrystaat Krieketunie se senior mans-krieketspan gaan voortaan bekend staan as die Itec Vrystaat Knights. Dit nadat hulle verlede week hul splinternuwe hoofborg bekendgestel het.

Itec, onder meer ’n verskaffer van tegnologie en telekommunikasie vir kantore, sal vir minstens die volgende drie jaar die borg van die span wees.

Die oud-Springbokke André Venter, Chris Badenhorst en Adriaan Strauss is drie van die vier topleiers van dié maatskappy in die Vrystaat, en aangesien hulle voormalige sportmanne is, sal dit van waarde wees vir die Knights. Strauss het ook voor sy uittrede uit internasionale rugby die Springbokke aangevoer. Al drie het op hul dag vir die Vrystaat uitgedraf.

Die oud-skoolhoof van Grey-kollege, Johan Volsteed, is die skakelpersoon en die openbare woordvoerder van Itec. Hy het ‘n lang geskiedenis met Vrystaat Krieket en het in ‘n stadium ook die span afgerig en silwerware gewen.

Volsteed het aan Bloemfontein Courant gesê hy glo dat Itec en die Knights van krag tot krag sal gaan tydens die vennootskap.

“Dit is inderdaad ‘n wonderlike dag om van vandag af te sien dat die oranje kleure van Itec ook die oranje kleure van die Vrystaat Knights sal wees. Ek onthou nog duidelik die jaar 1988/89, toe die Vrystaat die Benson & Hedges-trofee vir die eerste keer op Nuweland gewen het en ons presies dieselfde oranje hemde en broeke aangehad het as wat ons voortaan as die Vrystaatse Knights sal dra.

“Ek dink daar is soveel verbintenisse tussen Itec en die Vrystaat Knights dat dit amper ‘n huwelik is, en dit is baie goed vir die maatskappy en Vrystaatse krieket.

“Van die spelers wat in daardie eindstryd gespeel het, is Johan van Heerden, wat nou die uitvoerende hoof is, en Allan Donald, wat nou die afrigter is. Daardie mense was daar in 1988, en hulle is nog steeds daar, en daarom het Vrystaat Krieket gegroei, is hy sterk, en sal hy ook in die toekoms sterk wees. Dit is ‘n familiebesigheid, net soos Itec.

“Drie van die topvier by Itec het vir Suid-Afrika rugby gespeel. Hulle ken hul krieket en hul sport, en hulle is mal daaroor.

“Dit is baie goed vir ons om betrokke te wees en ek hoop dat Vrystaat Krieket in die komende seisoen van krag tot krag sal gaan, al het ons al die ander probleme rondom ons.

“Ek vertrou dat dit ‘n wonderlike seisoen en ‘n wonderlike borgskap vir Itec en die Vrystaat krieket sal wees.”

Johan van Heerden, die uitvoerende hoof van Vrystaat Krieket het op sy beurt gesê dat hulle baie opgewonde is oor die vennootskap.

“Wat ‘n voorreg is dit nie om ons nuwe veldtog as die Itec Knights te begin. Ons is baie opgewonde oor hierdie vennootskap. Met die nasionale voetspoor van Itec is dit beslis ‘n borg wat waarde tot die unie, span en spelers sal toevoeg.

Die Knights speel in die 2021/22-seisoen in Afdeling A saam met Boland, Gauteng, KwaZulu-Natal Kustelikes, Noordelikes,  Noordwes, Oostelike Province en Westelike Provinsie. – MORGAN PIEK