Vrystaat-gesondheid ‘n damwal wat breek

0
1293

CHRISTAL-LIZE MULLER

Die Vrystaatse departement van gesondheid en ander provinsiale departemente is soos ‘n damwal wat besig is om te breek. So beskryf die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) se bestuurder in die Vrystaat, Gerhard Koorts, die meeste provinsiale departemente wat swak of geen basiese dienste aan gemeenskappe lewer nie. "Daar is ongelukkig nie genoeg sement om al die krake en stukkende plekke aan dié damwal te vul nie."

Koorts sê in die lig van al die probleme by staatsdepartemente in die provinsie sal die VSA voortgaan om departemente oor die vingers te tik sodat basiese dienslewering ingevolge wetgewing plaasvind. In die nuuste verwikkeling rakende swak dienslewering het verpleegpersoneel van die Moroka-hospitaal in Thaba Nchu se veelvoudige middelweerstandige tuberkulose-eenheid verlede week nie N95-maskers ontvang nie.

Volgens hom weier verpleeg-personeel om pasiënte te verpleeg sonder die voorgeskrewe maskers uit vrees dat hul tuberkulose (TB) kan opdoen. "Die departement is onverantwoordelik om nie die voorgeskrewe maskers aan personeel beskikbaar te stel nie en die beweerde gebrek hou ‘n gesondheidsrisiko vir hospitaalpersoneel en ander mense met wie hulle in aanraking kom in."
Bloemfontein Courant verneem hospitaalbestuur het glo verlede Maandag opdrag gegee dat personeel ander maskers, wat minder beskerming bied, gebruik omdat daar na bewering voorraadtekorte is.
‘n Ingeligte bron het egter bevestig dat N95-maskers wel Vrydag aan personeel van dié eenheid verskaf is, maar dit is nie naastenby genoeg nie. Die N95-masker word deur die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid voorgeskryf vir TB-eenhede.

Koorts sê die departement se uitvoerende hoof, David Motau, het nie verlede week gereageer op die VSA se dringende versoek dat die N95-maskers beskikbaar gestel moet word nie. Die departement van arbeid het wel gereageer en inspekteurs kan, na wat verneem word, die hospitaal vandeesweek besoek, sê hy.

Die LUR van gesondheid in die provinsie, Benny Maloakane, het Vrydag aan Bloemfontein Courant gesê daar is geen rede dat daar ‘n tekort aan dié maskers is nie, omdat die departement genoeg geld vir voorraadaankope het. Hy sou die beweringe van dié voorraadtekorte met hospitaalbestuur opgeneem het.
Intussen sê die DA in die Vrystaat die plaaslike departement van gesondheid het nie ‘n benul wat die volle omvang en impak van TB in die provinsie is nie. Dit volgens die DA se Mariette Pittaway nadat Malakoane verlede week ‘n plaaslike veldtog begin het om groter bewustheid oor TB te skep.

Malakoane het ook die nuutste TB-syfers bekendgemaak. Pittaway sê ‘n tekort aan TB-medikasie by hospitale en klinieke vroeër vanjaar het ‘n negatiewe invloed op die provinsiale TB-syfers gehad. Volgens haar sal die DA aanhou om druk op die departement te plaas om gehalte-gesondheidsorg te lewer. Volgens Malakoane gaan die departement nie die stryd teen TB verloor nie.

Die departement se nuutste syfers toon sowat 19 000 mense oor die provinsie heen is verlede jaar met TB gediagnoseer. Meer as 900 000 mense van die 3 miljoen inwoners in die provinsie wat vanjaar tussen April tot Augustus vir TB getoets is, het simptome van TB getoon. Hiervan het meer as 7 500 mense positief getoets.
christal-lize@centralmediagroup.co.za