Vrystaat- en Kovsies-netbal onkeerbaar in 2014

0
679
RUFUS BOTHA

Die Vrystaat en Kovsies se netbalspanne het vanjaar weer eens ‘n kookwaterseisoen beleef en onderstreep dat ander provinsies en universiteite nog baie te leer het by die breier, Burta de Kock en haar afrigtingspan.

Alles het nie aldag voor die wind gegaan nie, maar dit het juis die Vrystaat en Kovsies so uitmuntend gemaak. Toe dit saak maak het hulle met hul beste spel vorendag gekom.

Die gehalte van netbalspelers uit Vrystaat-geledere is onlangs onderstreep by die Vrystaatse Sportmedia-banket toe drie van die ses genomineerde senior sportvroue (alle sportsoorte) netbalspelers was.

Dit het egter nie as ‘n verrassing gekom nie, want dié wêreldklasspelers, Maryke Holtzhausen, Adéle Niemand en Karla Mostert, het aldrie vir die Proteas diens gedoen en dít alleen is ‘n onderskeiding wat geen ander provinsie die Vrystaat kon nadoen nie.

Holtzhausen is ook gekroon as die Vrystaat se Sportvrou van die Jaar en toe val nóg ‘n eerbewys Vrystaat-netbal te beurt. De Kock word aangewys as die beste afrigter in die Vrystaat (2014) en sy het ook die eerbewys opgeraap voor verskeie puik afrigters wat uitgeblink het in allerlei sportsoorte.

Die Vrystaat Crinums was vroeër vanjaar die wenners van die semi-professionele Brutal Fruit- tussenprovinsiale netballiga.

Die eindstryd was nie die spreekwoordelike vulletjie nie en die Vrystaters moes al hulle ondervinding en veggees in die eindronde teen die Noord-Gauteng-Jaguars tentoonstel. Dié rillerwedstryd kon eers na ekstra tyd ‘n wenner oplewer.

Die Bloemfonteiners het kopgehou en die dames van die Jakarandastad voor hulle tuisskare met 40 – 36 geklop om as eerste wenners van hierdie spogtoernooi gekroon te word. Drie van die Vrystaatspelers is na afloop van die toernooi gekies vir ‘n sogenaamde “droomspan” en was die meeste spelers uit een provinsie.

Die Kovsies het weliswaar nie die USSA- (SA Universiteite) titel gewen nie en sal liefs die eindronde wil vergeet. Hulle het teen Tuks vasgeval het, maar weer is Kovsies-netbaltalent raakgesien. Dié keer is vier Kovsies ingesluit in die USSA-droomspan en dit was meer as enige ander universiteit.

Toe kom die ander grote van die jaar, die Varsity Cup. Almal wat eerlik genoeg was, sou jou vertel het dat die Kovsies nie ‘n kans in die eindstryd teen die oorweldigende gunstelinge, Tuks, voor laasgenoemde se tuisskare gehad het nie.

Maar De Kock se Kovsies het ander planne gehad en ‘n paar beroepswedders se beursies ‘n knou gegee. Die Kovsies het die wind uit Tuks se seile gehaal en na die eerste kwart (13 – 5) ‘n voorsprong opgebou wat uiteindelik die Kovsies met 49 – 42 die trofee omhoog laat hou het – dit vir die tweede agtereenvolgende jaar.

Die Kovsies se kaptein, Karla Mostert, is aangewys as speler van die toernooi en die kookwatersenter van die Kovsies, Lauren-Lee Christians as speler van die eindstryd.

Gepraat van Christians – sy (onderkaptein) en Holtzhausen (kaptein) is onlangs ingesluit in die Fast 5-span wat die Reënboognasie verteenwoordig het.