Vrystaat- en Griffons-klubrugby kan weer begin kook

0
515

GEORG VAN ECK

Met soveel as ses klubs van die Vrystaat en vyf van die Griffons betrokke, begin klubrugby weer prut en kan dit hierdie seisoen behoorlik kook in Sentraal-Suid-Afrika.  “Die klubs is baie postief en oral by Crusaders, Polisie, Weermag, Warriors en Collegians, wat weer terug op die Ramblers is, werk almal hard en is die spelers en klubs entoesiasties oor die komende seisoen,” het Lindsay Mould, president van die Vrystaat Rugbyunie, wat reeds al die Vrystaatse klubs behalwe die Steyners besoek het, gesê.

Die elf klubs, wat in ’n oorkruisliga van die Vrystaat om die Vrystaatse Uitdaagbeker betrokke gaan wees, is die naastebeste spanne van Bloemfontein-Polisie, Crusaders, Welkom Rovers, Kovsies (Irawas), SUT (Tjisas) asook eerstespanne van Oud-Skoliere van Bethlehem, Welkom, Hennenman, Kroonstad (almal van die Griffons) asook Weermag en Warriors (albei van die Vrystaat).
Die FNB Varsitybeker en -skildreeks en bykomende Young Guns en Steinhoff Koshuis-reeks vir die Shimlas en Kovsies asook Ixias en SUT is reeds volstoom aan die gang of begin eersdaags, terwyl drie klubs, Crusaders, Bloemfontein-Polisie en Rovers van Welkom, in die nuwe nasionale Gemeenskapsbeker-reeks in aksie sal wees, maar met die oorkruis-liga om die Uitdaagbeker is ander klubs nou betrek.

Met Oud-Greys en Collegians nie betrokke nie, kry tweedeliga-klubs in die Vrystaat, Weermag en Warriors, hul groot kans om hulle teen die sterk spanne van veral Hennenman, Welkom, Bethlehem en Kroonstad van die Griffons asook die naasbestes van die Kovsies, SUT, Crusaders en Bloemfontein-Polisie te toets. “Dit is altyd beter om jouself teen sterk opposisie te toets. Klubs en spelers is opgewonde oor die uitdaging wat op hulle wag,” het Mould verduidelik.

Die liga skop Saterdag af en die bepalings is (tuisspan eerste genome en al die wedstryde skop om 16:00 af):
Welkom t Weermag; Hennenman t Crusaders, Warriors t Kroonstad; Irawas t Rovers; Tjisas t Oud-Skoliere. Bloemfontein-Polisie het ’n loslootjie.