Protea-vroueskut, Esmari van Reenen, het die mans op die Suid-Afrikaanse kleingeweer-kampioenskap (.22) op die Paradys-skietbaan buite Bloemfontein die loef afgesteek om as Suid-Afrikaanse kampioen gekroon te word. Van Reenen het op vanjaar se kampioenskappe in vyf wedstryde in die liggende posisie ‘n ongelooflike totaal van 2 951 uit ’n moontlike 3 000 geskiet. In die finale wedstryd het sy 598 uit ’n moontlike 600 opgestapel. Sy het haar naaste teenstander, Gavin van Rhyn (SANW), met 19 punte geklop. Freek Senore (Eagle Eye), was derde met 2 915.
Die 31-jarige skut van Krugersdorp skiet reeds skyf sedert haar skooldae aan Hoërskool Monument. Op die internasionale 50 meter-baan het sy die afgelope 15 jaar haar land op drie spele verteenwoordig. Op die Olimpiese Spele in Beijing het die skut van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag teen die beste internasionale skuts ter wêreld 16de geëindig. Van Reenen het ook al silwermedaljes op twee Statebondspeles in Manchester, Brittanje en Melbourne, Australië, verower.
Op Paradys het sy het ook vanjaar die vroue A- en B-klas in al drie posisies (liggend, hurk en staande), met ’n totaal van 1 150 gewen, gevolg deur Annemie Barnard (NG) en Riëtte Steenekamp (NW). In die A-klas vir mans in al drie posisies het Casper Uys ( Eagle Eye, Noordwes), met die titel weggestap, gevolg deur Freek Senore (Eagle Eye, NG) en Juandre Wilmot (Eagle Eye, NW).