Vrou vertel van haar transito-nagmerrie

0
2709
'n Toneel in die drama wat hom afgespeel het tussen Taung en Vryburg.

Wat begin het as ‘n gewone dag in ‘n mediese verteenwoordiger se lewe, het ontaard in ‘n nagmerrie toe sy haarself in die middel van ‘n transitorooftog bevind het.
Sunet Grundlingh van Brandfort het oudergewoonte haar verkoopsrondte deur die platteland gedoen. Terwyl sy deur die klein dorpie Taung gery het, het haar hele lewe in ‘n oogwink verander.
“Ek was tussen Taung en Vryburg toe ek ‘n Jeep teen ‘n geldwa sien vasry. Ek het eers gedink dit is ‘n ongeluk, maar toe sien ek die Toyota-bakkie van vooraf kom,” het sy vertel.
Die bakkie het op haar afgepyl om haar af te trek. “‘n Man het alles in my handsak omgekeer en uitgegooi om seker te maak ek het nie ‘n foon, ‘n wapen of pepersproei by my nie. Hy het vir my gesê dit is hier waar hy my nou gaan doodskiet as ek dit sou waag om ‘n oog te knip.

Die slagoffer, Sunet Grundlingh

“Daar was ‘n heen en weer geskietery tussen die geldwa, die Jeep en die bakkie, en ek was reg in die middel van die slagveld. Die skote het verby my gevlieg. Ek het met die Here se genade ongeskend daarvan afgekom,” verduidelik sy.
“Hulle was uit en uit gereed om op die wa toe te slaan, so asof hulle voorbereid was en geoefen het. Hulle het definitief die roof beplan.”
Sy vertel dat die enigste vraag wat deur haar kop gegaan het, was: “Wanneer gaan ek dood? Is dit hoe ek gaan doodgaan?”
“As ek kon bel, sou ek, maar hier is nie ‘n sein nie. Ek het begin bid. Skielik het alles om my stil geraak… Toe ek my oë oopmaak, skarrel almal rond, asof iets in die rooftog skeefgeloop het. Geen mens weet wat nie, maar tog sê my kop vir my die Here het my gebed verhoor en my veilig gehou.”
Die rowers het haar uit haar wit Tiguan gegooi en daarmee weggejaag. Die kar is drie ure later in ‘n verlate veld gevind. Dit was baie beskadig, maar sy het al haar besittings, insluitend haar handsak, tablet, ens., teruggekry. Al wat die rowers gebuit het, was haar beursie en haar lisensie. Geen geld is uit die transitovoertuig gesteel nie, hoewel die drywer beseer is in die voorval.

Die gewere in die rowers se voertuie het bestaan uit AK-47’s en ook R1’e.

Na afloop van die gebeure het die polisie 35 minute later eers hul verskyning gemaak. Daar is 120 leë patroondoppies op die toneel gekry en daar is bevind dat daar plofstof in die bakkie was. Dié soort wat die polisie gebruik…
Grundlingh hanteer die situasie goed, maar sy sê die hele gebeurtenis raak steeds haar familie en vriende. “Al wat my werklik pla is dat ek voel ek het nie elke dag beheer oor hoe my liggaam en my kop funksioneer nie. Dit frustreer my. Ek is baie paranoïes.
“Ek is kwaad, maar ek het die rowers half vergewe. Almal is met liefde geskape. ‘n Mens moet besef wat in ‘n ander se lewe aangaan voordat jy oordeel.” – JERETHA OOSTHUIZEN

jeretah@mahareng.co.za