Vrou mismoedig oor ‘geen hulp van staat’

0
570
Jacqueline Jaars FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

‘n Ma van Heidedal voel hulpeloos en gaan nou vir die derde keer aansoek doen by South Africa Social Security Agency (Sassa) vir ‘n toelae om haar finansieel te help met haar seun se mediese toestand.

Jacqueline Jaars se seun se bene en voete is erg beseer in ‘n motorongeluk in 2008, toe hy drie jaar oud was. Sedertdien het hy verskeie operasies ondergaan om die gevolge van die beserings wat hy opgedoen het, te probeer herstel.

Dit is nou tien jaar later, en die seun moet steeds gaan vir operasies. “Die operasies is nie my enigste bekommernis nie. Hy moet ook sielkundige hulp ontvang omdat ander kinders hom terg oor sy ‘gebrek’,” het sy vertel.

“Ek is ‘n enkelouer. Sy pa is reeds oorlede toe ek swanger was met hom. Ek werk ook nie, omdat ek op antiretroviale middels is en nie een week by die werk wil wees en dan weer afwesig vir ‘n week nie. Die R400 wat ek reeds by Sassa kry, is heeltemal te min vir sy skoolfonds, klere, spesiale ortopediese skoene, pynpille en vervoerkoste, veral wanneer ek van ‘n taxi moet gebruik maak wanneer hy in die hospitaal is,” het Jaars verduidelik.
Vroeg in Januarie was haar seun reeds weer by die dokter waar hy ‘n CT-skandering ondergaan het en verskeie x-straalplate geneem is. Die dokter se verslag toon dat hy ‘n misvormde ‘distal tibia’ en ‘cavus foot’ het.

“Die dokter gaan op 8 Februarie die skanderings met ons bespreek en dan sal daar besluit word wanneer my seun weer sal ingaan vir sy hoeveelste operasie.”

In ‘n brief wat aan Jaars gestuur is deur Sassa word aangedui dat die rede vir die onsuksesvolle aansoek vir ‘n sorgafhanklikheidstoelae (care dependency grant) gegrond is op Artikel 7 van die Wet op Maatskaplike Bystand van 2004. Daarvolgens het die kind nie permanente tuisversorging nodig nie en ontvang hy nie ondersteuningsdienste nie. Die seun gaan skool ten spyte van sy toestand.

Jaars gaan vandeesweek vir die derde keer aansoek doen om ‘n toelae vir finansiële bystand. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za