LANI FOUCHÉ
‘n Vrou wat van diefstal aangekla is nadat sy in besit van ‘n vermoorde vrou van Oranjerivier se hardeskyf was, moet weer op 9 September in die Heilbron Landdroshof verksyn.
Volgens polisiewoorder Peter Kareli het die vrou op versoek van die polisie vermoorde Vivian Ponté se skootrekenaar aan die ondersoekbeamptes oorhandig, maar sy het glo eers die hardeskyf verwyder.
Sy is daarna geroep om die die hof op ‘n aanklag van diefstal te verskyn. 56-jarige Ponté, ‘n apteker wat in ‘n mediese laboratorium in Johannesburg werksaam was, is verlede week dood op haar bed in haar Oranjeville-huis aangetref. Kareli sê die inhoud van die hardeskyf kan help met die ondersoeke in die moordsaak.
Vier verdagtes is kort daarna aangekeer en moet op 13 September weer in die hof verskyn waar hulle om borgtog sal aansoek doen.
Thabang Motloung, Teboho Mofokeng, Sthembiso Mnune en Tsietso Motloung staan tereg op aanklagte van moord, diefstal en brandstigting. Hulle het na bewering waardevolle items uit Ponté se huis gebuit, nadat hulle haar vermoor en haar slaapkamper aan die brand gesteek het.
Hulle word ook daarvan verdink dat hulle op dieselfde aand by die Kraanvoëlvlakte Laerskool in Oranjeville ingebreek en kontant en kos gesteel het.