Vroeë Kersfees vir egpaar na brand

0
1225
Esmé en Dewald Hattingh met hulle hondtjie, Bambie. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

“Ons is so bly dat ons so vinnig terug in ons huisie is en dat dit in so ‘n uitstekende toestand is.” Dit is die woorde van ‘n dankbare Ewald en Esmé Hattingh aan Bloemfontein Courant. Dié twee het verlede Vrydag teruggetrek na hul nuutgeboude meenthuis in Wilgehof, wat in Oktober vanjaar afgebrand het. Niks kon gered word uit die brand nie, behalwe hul hondjie, Bambie.

Esmé vertel hoe mense gesê het dat dit onmoontlik is om ‘n huis in net drie maande te bou, maar sy en Dewald het nooit moed verloor nie. “En kyk, hier staan ons pragtige huisie weer. Dit is alles so netjies. Dit is vir ons ‘n heeltemal ander plek, daar is soveel ruimte en alles binne is splinternuut. Die kontrakteurs het seker gemaak dat ons meer as genoeg muurproppe het dat iets soos ‘n brand nooit weer gebeur nie.”

Die Hattinghs se meenthuis ná die brand.

Die Hattinghs kan nie uitgepraat raak oor hoe goed die gemeenskap vir hulle was nie. “Ons het alles wat ons nodig het. Weet jy, die mense was so goed vir ons, die goed het ingestroom en dit was so baie dat ons ook daarvan kon weggee aan ander mense wat dit nodig het. Dit het baie vir ons beteken en was vir ons so lekker om te doen.”

Alles wat die paartjie gekoop het, is moontlik gemaak deur die geld wat die mense vir hulle geskenk het.

Die kombuis is sommer nuut toegerus met bydraes van die gemeenskap. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

“Ons wil graag vir almal wat ons gehelp het in dié moeilike tyd, baie dankie sê. Vir die vriende by wie ons gebly het, die mense wat vir ons gebid het en sommer net almal. Ons waardeer julle regtig,” het die Hattinghs saamgestem.

“Die tragiese gebeure was inderdaad ook ‘n verborge seëning vir my moeder, Mavis Robbertse, want sy het nou ‘n enkelkamer by Aandrus en sy is baie, baie gelukkig daar,” het Esmé aan Bloemfontein Courant gesê. – Sazly Hartzenburg
sazly@centralmediagroup.co.za